MOSSELBAAI NUUS - Covid-19-infeksies neem landswyd hand oor hand toe, ten spyte van die regering se inperkingsregulasies wat onder die strengste ter wêreld gereken word. Boonop ervaar Suid-Afrikaners eindelose frustrasie ten opsigte van regulasies wat deur die hof as ongrondwetlik bewys is.
Sedert president Cyril Ramaphosa se toespraak Sondag, 12 Julie is die wind opnuut uit Suid-Afrikaners se seile nadat onder meer die aandklokreël en die drankverbod heringestel is. Deur nie 'n gesigmasker te dra nie, kan jy nou vervolg word en familiebesoeke bly taboe.
Mosselbaaise huisarts, dr Ernie Hobbs, gesels by monde van die Mossel Bay Advertiser, in 'n ope brief aan die gemeenskap oor Covid-19. (Sien berig hieronder.)
Hobbs meen dat mense moet leer om met verantwoordelikheid in plaas van in vrees te leef wat Covid-19 betref.
"Baie mense is tans onder 'n wanindruk en dink niks daarvan om byvoorbeeld drie maal per week na winkels toe te gaan nie. Maar hulle vermy spreekkamers omdat die persepsie bestaan dat daar net siek mense is wat met Covid-19 besmet is. Die ander kieme is nog steeds met ons soos griep, influenza en dan die ander gewone koronavirusse. Dit is ook nie te sê dat as jy siek word, jy noodwendig Covid-19 het nie."
Dit bekommer hom dat pasiënte in sommige gevalle tot hulle eie nadeel ander moontlik ernstige simptome soos borskaspyn ignoreer, uit vrees om mediese fasiliteite te besoek.
Hy het hom ook sterk uitgespreek teen die stigmatisering wat die diagnose met Covid-19 betref. Hy skryf dit toe aan die mediastorm oor Covid-19.
Wat Hobbs wel toegee, is dat die virus totaal onvoorspelbaar is. Hy vertel van ouer mense in die sogenaamde risikogroep wat net geringe simptome soos 'n loopneus het, maar dat jonger mense onder 30 al in intensiewe sorg op ventilators beland het.
"Dit gaan oor die virale lading. As jy net vinnig blootgestel is, dalk aan 'n oppervlak geraak het, maak dit 'n groot verskil teenoor om vir langer as byvoorbeeld 15 minute binne 'n radius van 1 meter aan 'n besmette persoon blootgestel te wees." Maskers, syns insiens kan hier 'n groot rol speel omdat die dra daarvan, 'n effek op die virale lading waaraan die draer blootgestel word, kan hê.
Hobbs noem dat 'n groot kommer wat betref die Covid-19-pandemie, mense se emosionele welstand is. "Nie net trek pasiënte wat reeds behandeling ontvang swaar nie, maar daar is meer gevalle van stresversteurings soos paniek en angs, asook depressie, wat behandeling verg. Dis slegte tye, ongetwyfeld."
• Teen druktyd was die jongste infeksiesyfers vir Mosselbaai volgens die kantoor van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde 670 met 281 persone wat reeds van die virus herstel het. Volgens 'n persverklaring deur die Mosselbaai-munisipaliteit vroeër vandeesweek, het bykans 350 persone in een week positief vir Covid-19 getoets.
Hou goeie moed, vra arts
In 'n ope brief wat sedert die aanvang van Covid-19 in Maart vanjaar in sy binneste broei, skryf dr Ernie Hobbs van Mosselbaai aan die gemeenskap.
In Maart 2020 het ons lewens verander. Die wêreld is op sy knieë gedwing deur 'n mikroskopiese organisme. En nou, drie maande later is die meedoënlose opmars van Covid-19 steeds al waarmee ons gekonfronteer word. In hierdie brief wil ek nie as medikus my geleerde mening gee en kennis deel en nog meer pandemonium saai nie. Ek wil as gewone mens probeer om my medeburgers te inspireer en hulle bemoedig vir die nabye toekoms. Ons lewens word deur vrese en diktatoriale reëls gereguleer. Ons is almal moedeloos, kwaad en onseker. Maar hou goeie moed.
As algemene praktisyn is ek, saam met my vrou in dieselfde beroep, sedert die begin werksaam in hierdie pandemie. Ek het al die moontlike emosies ervaar - van vrees, tot ongeloof, van aggressie tot verslaenheid. Ons moes baie vinnig 'n protokol opstel om ons praktyk Covid-19 vry te hou deur verdagte pasiënte buite in hulle motors te konsulteer. Dis werklik nie optimaal nie. Maar ek dink dat al die medici sal saamstem dat hierdie fenomeen ons redelik onkant betrap het. Maar hou goeie moed.
Daar is tans legio sienings met betrekking tot Covid-19. Van sensasionele samesweringsteorië tot totale onkunde, en van kenners met 'n vrees-filosofie tot totale apatie. Wie of wat moet 'n mens glo?
Ongegronde stigma
Daar heers 'n ongegronde stigma deesdae aan die diagnose van Covid-19. Dis asof iemand "gesondig" het deur gediagnoseer te word met Covid-19, asof die individu uit die kudde verwerp word.
Ai, ek wens darem dat die breë populasie nie hulle ore so uitleen aan valse mediaberigte nie. Enigiemand kan Covid-19 op enige plek aansteek. Ons almal ken nou al die informasie daaroor. Ons gaan ongelukkig nog 'n skerp verhoging in die infeksiegetalle sien. Dis onvermydelik. Maar ons moet ook besef dat die oorgrote meerderheid van pasiënte gesond word, en dat 'n klein persentasie wel in die hospitaal sal eindig en nog 'n kleiner persentasie wel sal sterf as gevolg van Covid-19 verwante komplikasies. Moenie moedeloos raak nie.
Baie mense spandeer ure voor die TV en op sosiale media, en word totaal meegesleur deur al die statistieke en syfers. Dit is sekerlik hulle reg, maar terselfdertyd word jy gevoer met negatiwiteit.
Kyk liewer na hoeveel mense gesond geword het, luister na die positiewe getuienis van mense wat wel die infeksie opgedoen en dit oorwin het. Probeer ook om nie te veel te fokus op die regering se pogings nie. Bid liewer vir hulle.
Die kern-konsep wat ek graag by almal wil uitbring, is dat ons nie in vrees moet leef nie, maar dat ons ook nie onverantwoordelik moet omgaan nie. Wees rustig, moenie julle ore uitleen of onverskillig wees nie. Die kernwoorde wat ons in gedagte moet hou is geduld, ondersteuning, verdraagsaamheid en verantwoordelikheid. Kritiek en vrees gaan ons nêrens bring nie.
Eenvoudige voorstelle
Hou by drie eenvoudige voorstelle:
- was jou hande, met seep, genoeg, gereeld, 20 sekondes lank en ontsmet tussen-in;
- hou by die sosiale distansiëring van 1,5 meter, daar is wetenskaplike redes daarvoor;
- dra jou masker, al voel dit of daar swamme in jou keel groei en jy versmoor, dit verhoed die verspreiding en inasem van mikro-druppels, en dit is ook nou wet.
Hierdie reëls gaan nie vir ewig daar wees nie.
My medemense, hou goeie moed. Ons gaan deur hierdie krisis kom, sterker en slimmer. Doen julleself 'n guns en gaan lees Fillipense 4: 6-7.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'