MOSSELBAAI NUUS - Tuine en Tossels se tweede byeenkoms vir die jaar is aan huis van Anita Knottenbelt gehou. Al die lede het die byeenkoms prettig en leersaam gevind.
Anita het gewys wat alles gedoen kan word met afvalstukkies lap en items wat gewoonlik beskou word as nie meer bruikbaar nie. Sy het demonstreer hoe 'n onderbord wat al sy fleur verloor het, met materiaal oorgetrek kan word om weer splinternuut te lyk. 'n Wynbottel is spoggerig oorgetrek met gewone bruinpapier. Selfs 'n groot los teël het 'n pragstuk geword met 'n syskermpatroon en 'n bietjie swart verf.
Só kan 'n mens baie rande bespaar. Ook 'n pragtige deurknop kan van 'n gewone laaitjie 'n spogstuk maak. Deksels op glasbottels kan versier word met 'n besonderse knop om sommer deftig te lyk.
Alle materiaal en stensils is by plaaslike kuns- en hardeware winkels beskikbaar. Selfs die sogenaamde "onkunstiges" is geïnspireer om nuwe dinge teen 'n fraksie van die koste te maak en ou goed nuwe lewe te gee en in 'n spogitem te verander.
Die komitee verantwoordelik het 'n heerlike ete voorgesit waarna almal gesellig was.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'