MOSSELBAAI NUUS - Die Mei-byeenkoms van die Tuine en Tossels groep was iets besonders. Die geleentheid het plaasgevind in die pragtige huis van Deon en Jeanette Scholtz in Fraaiuitsig.
Onderleiding van Mitzi de Wet, is verskeie getuienisse gedeel wat aan die oggend 'n spesiale atmosfeer gebied het.
Vlam van Deventer, bekende tuinkundige, het die vroue meer vertel van die spesifieke tuin. Hy het hierdie tuin met sy vele uitdagings saam met Jeanette help vestig en hoewel die tuin slegs vier maande oud is, is dit reeds 'n lushof.
Hy het onder andere gesê dat jou tuin 'n ekstensie van jou persoonlikheid behoort te wees en klem gelê op fokuspunte en hoe belangrik kontras tussen gras en groen plante werk.
Die belangrikheid van vars kruie en hoe die jongste tendens om kruie tussen die blomme te plant, blombeddens nie net versier nie maar ook onkruid versmoor en 'n heerlike aroma bied.
Die mooiste kwilts en ander borduurwerk is deur Wilmien Nieuwoudt saamgebring en uitgestal op die stoep.
Die verrykende ervaring is oudergewoonte afgesluit met heerlike verversings en 'n gesellige kuier.
Die vergadering is gereël deur Mitzi de Wet en haar span.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'