Video
MOSSELBAAI NUUS - Dit is 'n koue, winderige oggend op Mosselbaai en die een na die ander bakkie kom by die plaas, Bergsig ingery. Dit is die plaas van Kobus Crous wat 6km buite Hartenbos geleë is en dien op Woensdag, 8 Augustus as afsetpunt vir tonne mielies wat as droogtehulp aan boere geskenk word.
Die opwinding is groot en boere staan geduldig met leë voersakke- en plastiekemmers en wag op voer vir hulle diere. Aan die stuur van die besending 10 vragmotors wat die afgelope week vanaf Fochville met altesaam 350 ton mielies vertrek het, is Burre Burger (32), stigter van die organisasie, Droogtehulp.
'n Verskeidenheid boere van die Fochville-omgewing het die mielies geskenk vir boere op Vleesbaai, Albertinia, Riversdal en Groot-Brakrivier wat onder die droogte ly. Elke dorp het twee vragmotors met 35 ton mielies elk ontvang en 'n totaal van ongeveer 600 boere sal vir 'n tydjie verligting ervaar.
Al het daar reën op Mosselbaai geval, sê die boere dit is glad nie genoeg water om verligting in die droogtetoestande te bring nie.
'Meer reën nodig'
"Dit reën nie kos nie," sê plaaslike boer, Tienie Gericke. "Daar is dalk 'n paar groen lande maar dit is glad nie genoeg nie." Ons het meer reën nodig anders gaan ons weer vinnig agteruit. Baie boere moes van hulle vee minder maak. Om jou kudde weer terug te bring vat minstens drie jaar." Gericke sê die besending mielies stop gate toe.
"Dit is wonderlik dat mense so omgee en bereid is om ons te help. Die droogte leer ons om om te gee vir mekaar."
Boere, trokdrywers en sakemanne staan voor die vragmotors met mielies voordat dit na onderskeie dorpe in die Tuinroete vervoer is. Foto: Tersia Marais
Kobus Crous sê al het dit gereën is die droogte nie gebreek nie. "Ons het nie water nie en daar word nie water uit die Hartebeeskuildam gepomp nie. Ek het gelukkig 'n boorgat, maar nie al die boere is so gelukkig nie." Hy sê hy gebruik dit uitsluitlik vir sy diere vir drinkwater.
"Dit is nie nou groeityd nie so dit gaan 'n tyd vat voor die boere gaan kos hê vir hulle diere." Crous sê lusern is skaars en hy moet duisende rande maandeliks aan ekstra voer spandeer.
"Die aanvraag vir lusern is baie meer as wat die aanbod is. Dit is wonderlik van Droogtehulp om uitkoms aan die boere te bied." Crous sê die mielieskenking bring verligting vir baie boere.
Na drie ure se geduldige gewag, kom 'n rooi vragmotor met Burger wat in sy voertuig die voortou neem, by Bergsig aangery. Die vragmotor sit gedurende die oggend drie keer in modder vas en ry diep spore om die skuur op Crous se plaas. 'n Paar keer word 'n trekker nader gebring om die vragmotor uit die modder te help. Teen die tyd dat die vragmotor op die betonblad tot stilstand kom, staan die boere en hul werkers gretig nader.
Die mielies stroom uit die vragmotor se sykante en vir 'n oomblik kyk almal in stille verwondering toe. Die boere spring in en maak die een na die ander emmer en voersak vol mielies. Almal is geduldig en gee elke boer 'n kans om vir hom van die kosbare voer te kry. "Dis soos manna uit die hemel," merk een boer op terwyl hy 'n graaf vol mielies in sy voersak gooi.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'