Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die drie spanne wat aan die Toetertoe trofee-reis deelgeneem het, het ná hul besoek aan die Mosselbaai-area na die Kaap gereis.
Hulle het die 26ste Desember na Clanwilliam vertrek, en vandaar besluit om die Weskus-roete te volg.
FOTOGALERY: Toer na hartsbegeertes
Daar was heelwat probleme wat hulle moes oorkom, soos 'n pap band wat die Opel gekry het, nadat hulle die grondpad na Groenriviermond aangedurf het.
Rika Lubbe vertel: "Daar was drie spaarwiele, maar ons ontdek toe dat nie een op die Opel pas nie. Ons moes toe langs die pad kamp opslaan en het tot laat die aand onder die sterre gekuier. Ons kon die see hoor en die ligtoring sien, maar ons plan om by die see te slaap, het nie gerealiseer nie."
Die volgende oggend het die Cressida-span na Garies vertrek om 'n motorband wat op die Opel sou pas te gaan soek.
Omdat die Cressida net een elektriese waaier het, moes hulle relatief vinnig op die grondpad ry om te voorkom dat die motor te warm raak. Dit was opsigself 'n uitdaging.
Die band is herstel en die drie spanne het vol moed die volgende skof van hul Toetertoe-reis aangepak. Die rowwe gondpad het weer sy tol geëis deur 'n kraak in die Opel se brandstoftenk te veroorsaak wat hulle in die intense hitte by 'n vulstasie met 'n koekie Sunlight seep "reggemaak" het.
Volgens Rika Lubbe, een van twee vroue tussen die nege mans, het hulle besluit om die Augrabies watervalle te besoek. "Dit was 'n ongelooflike ervaring om die valle in vloed te sien. Ons het soveel beleef en gesien tydens ons Toetertoe-reis."
Toe hulle terug by hul motors kom, was dit so warm dat die Ford Laser se "wimpers" plat gelê. Die volgende stop op hul reis, was Kuruman. Rika vertel: "Ons was gewoond aan die hitte in die karre, omdat daar nie lugversorging is nie, maar die Noord-Kaapse hitte was iets heeltemal anders. As ons die vensters oopgemaak het, was die lug van buite so warm soos 'n oond.
Die vloere van die motors het ons so gebrand, dat ons nie ons voete kon neersit nie. Genadiglik het ons onder 'n wolk ingery en toe dit begin drup, van die pad getrek en in die ligte reën gestaan solank dit aangehou het. Dit het ons siele verkwik en in Kuruman het ons 'n goeie nagrus gekry deur in 'n gastehuis oor te bly.
Die volgende oggend was die laaste skof Potchefstroom toe. "Toe ons rondom die eerste slaggat moes slinger, was ons skoon opgewonde, want ons was terug in ons grootwordplek, Noordwes! Ons het soos wafferse Dakar-renjaers deur die slaggate gevleg en resies gejaag tussen Klerksdorp en Potch. Alles darem binne die spoedbeperking, met veiligheid altyd eerste prioriteit!"
Die jongmense tussen 21 en 25 jaar oud, beplan reeds hul volgende reis."Dié keer, gaan ons meer plekke besoek, kamp en kuier en minder ry."
VIDEO - Ludwig Rontgin vertel waar die Toetertoe Trophy uitdaging sy ontstaan gehad het
VIDEO - Pierre Joubert is een van die Toetertoe Trophy deelnemers. Hy vertel van die begin van die proses.
VIDEO - Ockert Lubbe verduidelik wat hulle alles aan die Cressida moes doen om dit aan die loop te kry.
VIDEO - Rian Velthuysen verduidelik die uitdagings met die Opel Kadette wat bietjie op was met die aankoop.
VIDEO - Rika Lubbe is een van die twee meisies wat aan die Toetertoe Trophy deelneem.
VIDEO - Ryno Bornman vertel van die baie interessante roete wat hulle gevolg het sedert die 15de Desember.
VIDEO: Dante van Sittert is ook 'n lid van die Poskantoor Dames wat met die rooi Kadette getoetertoe het.
VIDEO - Janco Malan vertel van die teëspoed wat hulle langs die pad gehad het tot in Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'