MOSSELBAAI NUUS - Die begin van 'n nuwe skooljaar bied genoeg uitdagings aan ouers. Des te meer aan enkelouers, wat nog te sê as jy gekonfronteer word met die nuus dat jou eens lewenslustige negejarige, leukemia het. Hierdie nuus het Mosselbaaiers egter gemobiliseer om 'n enkelma en haar seun te ondersteun.
Volgens Ethan le Grange se ma, Judy, sien haar seun altyd kans vir 'n uitdaging. Einde November 2018 was Ethan, 'n leerder aan Laerskool Park sonder energie. Só het dit deur die Desembervakansie voortgeduur. "Hy kon skaars 'n paar tree loop dan is hy uitgeput. 'n Aanhoudende kopseer het ook gepla."
Maagpyn het 'n klagte begin word, so ook pyn in sy bene. "Ons het gedink dis groeipyne en gedink sy bleek gelaatskleur is omdat hy nie genoeg son kry nie."
Hartkloppings
Op 9 Januarie kry hy skielik erge hartkloppings. Judy het dadelik 'n doktersafspraak gemaak.
Eers word vermoed Ethan ly aan bloedarmoede en 'n ystertekort. Hy word vir bloedtoetse gestuur op 15 Januarie, maar op Sondag, 13 Januarie is die hartkloppings weer daar. "Sy woorde was, 'Mamma ek gaan dood, ek weet dit' – dit het my geruk. Hoe kan 'n negejarige skielik so iets sê?"
Judy gaan werk die Maandag met 'n swaar gemoed. Die feit dat hulle 'n mediese fonds ontbreek, bemoeilik sake verder. Op aandrang van haar werkgewer, volg 'n afspraak by 'n plaaslike pediater. Ethan word dadelik in die hospitaal opgeneem en ontvang 'n bloedoortapping.
"Sy rooi bloedtelling was 3.9, waar dit tussen 14-16 moet wees." Judy het gedink dat die bloedoortapping en medikasie haar seun op die herstelpad sou plaas, maar toe kom die nuus dat hulle onverwyld by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad moes aanmeld.
Skok diagnose
Ná 'n lumbale punksie kom die diagnose op 16 Januarie. Ethan het akute limfoblastiese leukemie.
Hulle het dadelik begin met chemoterapie.
"Dit maak hom siek. Hy gooi op. Sy keel is vol seertjies en hy kan nie eet nie. Hy is bedgebonde vir 'n paar dae. Dis dokters in en dokters uit. Soveel om in te neem. Soveel om te doen en nié te doen nie."
Judy en Ethan is na sy ontslag gehuisves in 'n blyplek naby die hospitaal aangesien hulle daagliks daar moet wees vir toetse en behandeling. "My kind is doodbang vir naalde. Dit kos ons vier mense om hom vas te druk om hom in te spuit. Tussendeur vloei baie trane. Dit breek mens se hart om jou kind so te sien."
Volgens Judy sukkel Ethan om medikasie per mond in te neem. "Ons sit soms tussen 'n halfuur en twee ure om dit in te kry. Met baie pleit en baklei. Met die gesukkel voel dit of ons pal besig is met medikasie en baklei."
Vorentoe
Die pad vorentoe behels ses maande van intense behandeling. "Een maand Rooikruis en een maand George Provinsiaal. Daarna is ons op 'n driejaarplan - as alles goed verloop."
Desnieteenstaande, is Judy dankbaar teenoor 'n vriend, Dirk en haar skoonsus, Debre vir hulle onmisbare steun."Ek wil ook vir almal dankie sê wat sover gehelp het. Of finansieel óf met 'n oproep of boodskap. Al is dit net 'n 'sterkte vir die dag'. Dit alleen help meer as wat mense sal besef."
Ethan mag vir die volgende drie maande nie tussen mense kom nie, aangesien hy baie vatbaar vir kieme is.
"Dit gaan dinge moeilik maak as ons terug in Mosselbaai is. Sy behandeling veroorsaak 'n groot eetlus en Mamma sal moet winkels toe." Aangesien Judy hom nie alleen tuis kan los nie, kan ekstra hande wat met inkopies help dalk baie nuttig wees. Dan ook sy skoolwerk. Ethan gaan vir 'n paar maande tuisonderrig benodig.
"Elke dag is 'n dag op sy eie. Ons kan net dankbaar wees as ons 'n goeie dag het en vir die Here dankie sê. Dit is immers Hy wat vir ons elke dag krag gee."
Sy haal haar oudste seun aan: "Mamma, God is in beheer. Hy sal sorg."
* Judy het 'n borg ontvang vir een maand se verblyf in Kaapstad. Indien enigiemand van 'n bekostigebare blyplek weet of enige ander vorm van ondersteuning, stuur e-pos na ethanhelp0@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'