Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ses passasiers van onderskeidelik twee busse is dood ná die busse waarin hulle gereis het, in 'n botsing op die N2 by Mosselbaai betrokke was.
Die ongeluk tussen 'n bus van Williams Coach Tours en 'n Interkaap-bus, het langs die N2 Industriële Park op die N2-gedeelte tussen die Danabaai-afrit en Langeberg Mall plaasgevind.
FOTOGALERY: Busongeluk op die N2 Mosselbaai
Die ongeluk het Saterdagoggend, 13 Mei, om ongeveer 01:30 plaasgevind. Meer as 100 passasiers was op die twee busse.
Sersant Chris Spies, woordvoerder van die polisie, het die dodetal van ses bevestig en gesê dat die KwaNonqaba-polisie kort na die botsing op die toneel was. Volgens Spies het die ses oorledenes met die aankoms van die nooddienste nog geleef, maar het later op die toneel aan hul beserings beswyk. "'n Saak van strafbare manslag is geopen en die ongeluk word ondersoek," het hy gesê. Die name van die oorledenes was met die ter perse gaan nog nie bekend nie.
Daar was 67 insittendes in die Interkaap-bus, wat van Kaapstad na Oos-Londen gereis het. Interkaap se uitvoerende hoof, Johann Ferreira, het aan die media gesê dat een van die bestuurders en twee insittendes dood is.
Ondersoek
"Ons het die aanboord kringkamera deurgegaan en kan bevestig dat die bestuurder wakker en ten volle ontvanklik was. Die bestuurder het ook goed gerus voor die reis," het Ferreira in 'n verklaring aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Volgens Interkaap is al die video-materiaal en beskikbare inligting aan die polisie en die Wes-Kaap Departement van Mobiliteit oorhandig vir die ondersoek. Interkaap het ook bevestig dat hulle in kontak is met die passasiers vir enige hulp en bystand, wat hulle kan verleen.
Die Williams-bus was vanaf Gqeberha na Kaapstad onderweg. Drie persone, waarvan die bestuurder van die Williams-bus is ook in die ongeluk dood. Volgens die Wes-Kaap Departement van Mobiliteit is 32 van die passasiers, waarvan sommige ernstig is, vir behandeling na hospitale vervoer.
Nasionale ondersoekbeamptes van Kaapstad én die plaaslike owerhede was op die toneel om die ongeluk te ondersoek. Volgens Spies toon die voorlopige ondersoek dat die Interkaap-bus die afrit na George se rigting gemis het en toe verkeerdelik op die oprit na Louis Fourieweg, Danabaai en die Heiderand Mall beland en dit vir die afrit aangesien het. Die bus het toe teen die verkeer gery waar die ongeluk sowat 1km vanaf die oprit se stop, waar die busbestuurder verkeerdelik afgedraai het, plaasgevind het.
Die N2, rigting George na Mosselbaai was vir verkeer gesluit. Motoriste wat vanaf George in die rigting van Kaapstad reis moes Louis Fourieweg deur Mosselbaai gebruik. Die N2 is eers later die dag teen 11:00 weer oopgestel vir verkeer.
Die toneel van die busongeluk Saterdag, 13 Mei na die twee busse teen mekaar gebots het.
Foto's: Louise Karsten
VIDEO - Busongeluk op die N2 Mosselbaai
Previous articles:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’