MOSSELBAAI NUUS - Een van die Suid-Kaap se mees bekende en deurwinterde figure in die landbougemeenskap, Jantjie Horn is op 8 April op sy plaas, Hornstras oorlede. Oom Jantjie was 99 jaar oud op 6 Maart en het hierdie besonderse mylpaal tydens 'n groot samekoms van sy familie gevier.
'n Kleindogter, Verona Claassen, het gesê dat haar oupa op dieselfde plaas waar hy gebore is, afgesterf het.
Sy gedenkdiens is verlede Vrydag, 22 April op Albertinia gehou.
Sinvol
Hy gaan skool op Elbertskraal, waarna hy matrikuleer aan Hoërskool Outeniqua. Volgens inligting verskaf deur die familie, was oom Jantjie in die onlangse verlede, die langslewende matriekleerder tydens 'n reünie van dié skool.
Tydens sy studies aan die Universiteit van Pretoria ontdek hy sy liefde vir genetika. Dit is ook hier wat hy sy lewensmaat, Valerea ontmoet. Hy het 'n besonderse liefde vir Afrikanerbeeste gehad, wat hom gereeld in die Vrystaat laat kom het. Hier het hy sterk vriendskappe gesmee en ook beoordeling gedoen.
Hy staan ook sy skoene in die gemeenskap vol deur te dien op verskeie rade en direksies.
Oom Jantjie was bekend daarvoor dat hy graag sy gedagtes en ervaringe neergepen het. Hy het verskeie oorsese reise, waaronder ook landboutoere, onderneem, Hierdie wedervaringe is geboekstaaf vir sy nageslag.
Hy was wyd belese en tot op 'n hoë ouderdom, was die voer van 'n sinvolle gesprek vir hom belangrik. Sy Christenskap het hy tasbaar uitgeleef.
Een van sy bekende nalatenskappe, is die padstal by Hornstras waar pampoene op 'n eerlikheidsbasis verkoop is. Pampoene is gemerk met 'n prys en verbygangers kon dit koop, deur die geld in 'n pyp met 'n gleuf in te gooi.
Onthou
In die huldeblyk beskikbaar tydens sy gedenkdiens, saamgestel uit sy familielede sy herinneringe, word oom Jantjie beskryf as die "Gemkem" wat sy familie bymekaarhou, 'n man wat moeite gedoen het om deel van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders se lewe te wees.
Hy word onthou as spaarsamig en 'n goeie onderhandelaar.
Oom Jantjie was 'n planmaker en 'n entrepreneur van formaat, wat nog geglo het daaraan om iets reg te maak in plaas daarvan om dit te vervang.
'n Ware heer wie se maniere en kleredrag onberispelik was, 'n doen-mens, eg, one of a kind, eerlik, hardwerkend en dies meer, is woorde waarmee sy familie hom beskryf.
"Oupa is die enigste een in sy 90's wat ons ken wat self vir sy bakkie tralies uit hout bou en op 97 nog pampoene plant en oes. Oupa wou op 92 leer om met 'n iPhone te werk en het subtiel vir my 'n les geleer: "keep challenging yourself".
Hy laat vyf kinders, 12 kleinkinders en 16 agterkleinkinders agter. Sy vrou, Valerea het hom reeds ontval.
Jantjie Horn in sy jong dae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'