Update
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het veral sedert 6 Januarie te velde getrek teen die skade wat polisievoertuie tydens strandpatrollies aan die fauna en flora op strande aangerig het.
In respons, het Mosselbaai-munisipaliteit gesê dat klagtes oor hierdie skade sedertdien met die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning van die Wes-Kaapse Regering opgeneem is.
Ingevolge die Covid-19-ramptoestand-regulasies word die publiek toegang tot die strande verbied en is strande omvattend gedefinieer.
Die SA Polisiediens en veiligheidsmagte is getaak om die vlak 3-inperkingsregulasies toe te pas.
In die uitvoering van hul pligte is die polisielede wel geregtig om met voertuie op die strande te ry.
Die omgewingskade, veral aan die sensitiewe kus-area bó die hoogwatermerk, is aan die provinsiale departement uitgelig met voorstelle hoe dit voorkom kan word. Provinsie se verteenwoordiger het aan die munisipaliteit gesê dat die relevante omgewingsrolspelers geraadpleeg is.
Aangesien die SAPD amptelike pligte onderneem, benodig hulle nie toestemming om op die strande te ry nie. Die versorgingsplig (duty of care) is wel relevant en redelike maatreëls moet deurgaans getref word om die impak op strande te vermy en/of sover moontlik te minimaliseer.
Die departement besef Mosselbaai het 'n uitgebreide kuslyn wat meebring dat dit nie prakties is om die strande te voet te patrolleer nie en meen dat die SAPD hul omgewingprestasies kan verbeter.
Hersiening
Aangesien dit 'n nasionale bevoegdheid is, het die provinsiale departement die nasionale departement van omgewingsake, bosbou en visserye (DEFF) genader, wat saam met SAPD werk ter wille van die Operasie Phakisa: Inisiatief 5: verbeterde en gekoördineerde nakoming en handhawing.
DEFF het riglyne vir die verantwoordelike hantering van voertuie op die strande, wat hiervoor hersien en aangepas sal word en na die betrokke polisiekantore/ eenhede versprei sal word.
Beide DEA en DP, asook DEFF sal die probleem ook met die ander provinsies opper tydens 'n komende interprovinsiale werkgroep oor die nakoming en handhawing van die omgewing om ook ander provinsies en ander handhawingsinstansies van hierdie kwessie te sensiteer.
Sou soortgelyke skade weer voorkom alvorens die DEFF-riglyne uitgereik is, is dit 'n alternatief vir die provinsiale departement en die munisipaliteit om weer die SAPD se bevelstruktuur attent te maak op aanvaarbare toegange tot die strande asook die noodsaak om die impak op die sensitiewe dele van die kuslyn te minimaliseer, soos in die munisipaliteit se skrywe aan die provinsiale owerheid uitgestippel. Die provinsiale owerheid sal ook die praktiese aanbevelings aan die SAPD per brief toelig en onder meer aanbeveel dat voertuie op dieselfde spoor gehou moet word om te verhoed dat 'n groter strandarea versteur word. Daar word ook aanbeveel dat nie bo die hoogwatermerk gery mag word nie, aangesien dit 'n sensitiewe gebied vir flora en fauna is.
Sodra die riglyne gefinaliseer is, sal die provinsiale departement dit verder aan die SAPD se senior bevelskader deurgee, wat ook die spesiale premierskoördineringsforum vir provinsiale implementering bywoon.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'