"Daar's 'n liedjie wat lui: 'God hou van jong mense' en ek twyfel nie dat hierdie blondekoppie nou by Hom is nie," het 'n merkbaar aangedane Engelbrecht gesê.
Danté, gebore op 1 Maart 2001, het op 10 Februarie 2012 in 'n motorongeluk in Hartenbos gesterf.
Ds Engelbrecht het gesê: "Ons moenie kwaad bly vir die oom wat die ongeluk veroorsaak het nie, ons moet vir hom bid, sodat die Here sy hart sal verander." Engelbrecht het gesê God skets 'n groot prentjie soos die van 'n kunstenaar en dat ons op aarde dikwels net 'n klein stukkie van die groter prentjie raaksien.
Roubeklaers kon weens hul hartseer nie die liedjie op die begrafnisbrief; 'Dit borrel in my', voluit sing nie. Die kinderstemmetjies van die skoolkoor van Laerskool Hartenbos het die woorde van die liedjie deur die stil kerk laat vloei terwyl familie, vriende, maatjies, onderwysers en gemeenskapslede trane afgevee het: "Dit borrel in my want ek is so bly, Jesus het my lief. Vir my't Hy gesterf en gered van verderf, Ja, Jesus het my lief".
In sy gebed het die aangedane ds Engelbrecht, wat op tye vir 'n paar sekondes telkens tot verhaal moes kom voor hy verder kon praat, hard gebid: "Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het."
In 'n brief vir Danté, wat Engelbrecht voorgelees het, het verskeie lede van haar familie hul liefde aan haar betuig. Haar oupa het gesê hy gaan dit mis om met haar te speel. "Maak vir ons 'n plekkie gereed daar by jou," het sy harsteer brief aan haar gelees.
Leerders van Laerskool Hartenbos het 'n erewag buite die kerk gevorm toe maatjies Shauri, Sharlise, Sonique, Dylan, Loukie, en Danté se boetie, Bradley, die handvatsels van haar wit kissie gevat het.
Die kinders kon nie die kis van die waentjie oplig nie en het tussen die snikke van die leerders deur, die kis op die waentjie by die voetpaadjie afgestoot.
By die lykswa het Danté se pa, Mark, vir 'n oomblik getalm en sy hand op die kis gehou. Haar ma, Debbie, moes deur familie ondersteun word toe sy 'n laaste roos op haar dogtertjie se kis geplaas het. Danté se oumas en oupas het hartverskeurend by die kis gehuil.
In die laaste sinne van die begrafnisbrief het haar ouers geskryf: "Ons dank die Heer vir die tyd wat Danté aan ons geleen was, ons sal haar altyd onthou. Ons berus ons en dank Hom vir al die mooi herinneringe wat ons van haar bymekaar kon maak."
Maatjies van Danté ondersteun en troos mekaar by die kerk.
(1).jpg)
Danté se boetie en ouers is deur familie ondersteun.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE POSTHUMA-KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS