Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se jaarlikse vroueoggend met die tema Lewe Lig! / Live Lightly!, het op Saterdag, 7 September plaasgevind. Georganiseer deur Karen Koen, voorsitter van die skool se ouerkomitee, was dit 'n groot sukses. Mevrou Koen het die oggend gereël omdat sy glo dat "elke dame verdien om uniek, gekoester en waardevol te voel". Haar dogter, Simone Koen, 'n graad 11-leerder in Hoërskool Punt, het gesê die oggend was vir haar 'n inspirasie.
Sy het weer eens besef dat elke vrou 'n identiteit onafhanklik van ander se goedkeuring en idees kan vind en dat hierdie identiteit gevier moet word.
Die oggend se program het bestaan uit 'n kitaaritem deur Ruhan Heckroodt en Charles Deacon; 'n monoloog deur Wourie Delport en 'n sangitem deur Madison Melvill, biede opvoeders aan die skool. Cornelle Carstens, plaaslike joernalis het in een van haar vele gedaantes as die agony aunt Dorothy opgetree in 'n komediekabaret.
Pragtige skilderye, uitsonderlike gebak en handgemaakte klere is ook ten toon gestel. Elke item en uitstalling het nie net getuig van die harde werk, ambisie en kreatiwiteit van vroue in die gemeenskap nie, maar het almal wat teenwoordig was ook weer herinner aan die waarde daarvan of bewus te word van die mooi in die lewe. Met die huidige stryd om die beskerming van vroue op almal se lippe, was dit opbouend om te sien hoe vroue vanuit verskillende agtergronde, beroepe en lewensfases bymekaarkom om die siel van vrouwees te vier.
"Vroue is die steunpilare van die gemeenskap. Die toekoms van Mosselbaai gaan deur hulle bepaal word," het die skoolhoof, Adolf Gouws tydens sy spreekbeurt gesê. Mag Mosselbaai se vroue hande vat en saam veg ,nie net vir vandag nie, maar vir die toekoms van geliefdes in 'n geliefde land.
Madison Melvill (middel) 'n onderwyser aan Hoërskool Punt het die gaste vermaak met 'n paar country-nommertjies. Links is Madelie Broodryk en regs, Marita de Lange.
Lees 'n vorige artikel hier: Vrolike vroue geniet lentetee
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'