Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Tydens sy deelname aan AfriForum se veiligheidseminaar wat as deel van die Veg- en Bouweek aangebied is, het dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister gesê dat mense hom gekonfronteer het met die vraag “hoekom AfriForum?”.
Sy antwoord was ‘n teenvraag: “Hoekom nie? Die mense lewer dan ‘n bydrae?”
Meyer het saam met dr Theo de Jager, uitvoerende direkteur van SAAI en Raymond Hohls van AfriForum-gemeenskapsveiligheid op Dinsdag, 26 April oor landelike veiligheid gesels by die ATKV, Hartenbos Seefront.
Generaal Roland de Vries, wat ook deel van die paneel sou maak, kon nie die geleentheid soos beplan bywoon nie aangesien hy Covid-19 opgedoen het.
‘Hier om te werk’
Meyer het by aanvang gesê dat hy nie net ‘n minister in naam is nie, maar hier is om te werk. Dít, volgens Meyer, word reeds weerspieël in die Wes-Kaap se bydrae tot landbou.
“Die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 53% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere. Verder is die Wes-Kaap 10% van die bevolking en dra 10% by tot die landbou-uitvoermark. Hier, word gewerk,” het Meyer gesê.
Meyer het daarna verwys dat sy departement tans besig is met aggressiewe ekonomiese diplomasie in ‘n poging om die uitvoermark steeds uit te brei.
Hy het sy topprioriteite vir landbou genoem, wat insluit gestruktureerde opleiding, landelike veiligheid, marktoegang, ondersteuing aan boere en klimaatsverandering.
Veral met die fokus op landelike veiligheid, het Meyer opnuut die stelling gemaak dat hy plaasaanvalle in die Wes-Kaap, beskou as ‘n aanval op die ekonomie.
Sedert sy aanstelling, het Meyer ‘n interministeriële komitee in die Wes-Kaap gevorm wat landelike veiligheid direk aanspreek. Data word in groot hoeveelhede versamel om die omvang van die probleem te bepaal, oplossings te soek, strategieë te ontwikkel en planne te implementer.
Meyer is van mening dat plaasmoorde die voedselsekerheid op die Afrika-kontinent affekteer wat uiteindelik tot burgeroorlog kan lei.
“’n Man wat honger is, is kwaad en ‘n man wat kwaad is maak oorlog.”
Meyer het opgesom dat landelike veiligheid op drie vlakke bestuur met word. Eerstens op strategiese vlak waar regering inkom. Die Wes-Kaapse interministeriële veiligheidskomitee is hiervoor in plek en neem volgens Meyer, eienaarskap van landelike veiligheid.
“Op taktiese vlak is waar organisasies soos AfriForum inkom en dan is daar die operasionele vlak wat buurtwagte, plaaswagte, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dies meer insluit,” het Meyer verduidelik.
“Ek is die minister van landbou en wil nie hoor dat ‘n boer aangeval is nie. Ek gaan self hof toe om borg te opponeer.”
‘Kap jou pen in’
Dr Theo de Jager, uitvoerende hoof van SAAI, meen dat die plaasveiligheidprobleem oor veel meer as plaasmoorde gaan.
“Dit begin by iets baie kleiner en ons moet by die begin, begin.”
De Jager meen dat plaasmoorde sy wortel in ‘n gebrek aan etos het en dat dit die produk van ‘n bepaalde mentaliteit is wat reeds in leierskap sy oorsprong het.
“Daar is ‘n gebrek aan gevolge oor hierdie misdaad en daarom word mense nie afgeskrik om dit te pleeg nie. Ek praat met boere in baie lande, ministers van landbou en staatshoofde. Daar is ‘n groot skaarste aan leiers wat hulle pen inkap en daarmee sê – dit is nie hoe dit hier gaan werk nie. Ons het ‘n enorme tekort aan beginselgedrwe leierskap.”
De Jager is seder 2017 ook president van die Wêreldlandbou-organisasie.
Hy is ook van mening dat plaasmoorde ‘n politieke ding is.
“Ek steek my nek uit, maar niemand kon nog ‘n teenargument lewer om my verkeerd te bewys nie. Plaasmoorde is anders as ander moorde in Suid-Afrika. Daar lê iets agter die brutaliteit daarvan, ‘n woede.”
Hy het ook in dieselfde asem verwys na die dikwels ekstreme kommentaar wat plaasmoorde op sosiale media ontlok.
“Ook vir hierdie uitsprake is daar nie gevolge nie. Dit skep ‘n bepaalde gees en daardie gees moet aangespreek word.”
Hy maak ook die punt dat landelike veiligheid berus op dit wat self deur die burgerry gedoen kan word.
“Geen organisasie in die wêreld gaan tot ons redding kom nie.”
De Jager het ‘n sterk verband getrek tussen plaasveiligheid en eiendomsreg. Hy sê ook dat dit dwarsoor die land hoog op die agenda van boere-organisasies dien. Volgens hom is ‘n groot verlies vir landelike veiligheid, die ontbinding van kommando’s tussen 2004-2006.
“Die boeregemeenskap sou in plaas van met die weermag, met die SAPD gekoppel word deur middel van ‘n reservistemag. Dit het in 20 jaar nog nie suksesvol gebeur nie en ‘n vakuum het onstaan wat die krisis in landelike veiligheid veroorsaak het. Dit het ekonomiese groei in ‘n groot swart gat ingesuig.”
Wie wel voordeel uit die huidige veiligheidskrisis trek, is privaat sekuriteitsfirmas. De Jager meen egter dat boeregemeenskappe deur middel van kommunikasiestelsels soos WhatsApp, beskik oor ‘n magdom data wat onder mekaar ten goede aangewend kan word.
“Ons moet egter belê in strukture dat hierdie waardevolle inligting met noodtegnologie, soos kamerastelsels, gekoppel kan word.”
De Jager het egter gesê dat realisitiesgesproke, die veiligheidskrisis nie in sy en die teenwoordiges se leeftyd gaan verander nie, tensy die burgerry self moue oprol.
“Geen boer durf buite ‘n struktuur wat tot veiligheid bydra te staan nie. As ons landelike veiligheid nie omgekeer kry nie, het ons aan die einde van die pad gekom. Landbou kan nie aanhou funksioneer soos dinge nou lyk nie.”
Krygskultuur
Raymond Hohls van AfriForum-gemeenskapsveiligheid het uitgebrei oor die organisasie se veiligheidstruktuur wat veral opleiding betref.
AfriForum het tans 164 buurtwagte landwyd. Hols het uitgestip dat een van die kernbeginsels wat oorgedra word is om 80% pro-aktief en 20% reaktief te wees. Een voorbeeld hiervan is die onlangse nasionale patrollie op 8 April waaraan sowat 400 mense deelgeneem het. Tydens die patrollie is 42 000km afgelê en verskeie voorkomende aksies teen misdaad uitgevoer.
Ter samevatting het Hols gesê dat AfriForum glo in hulle plan om veiligheid in Suid-Afrikae te bevorder.
“Ons beywer ons vir groter samewerking met ander en steun op gewilliges se kundigheid. Dit is kernbelangrik om ‘n krygskultuur te kweek en sodoende veiligheid selfstandig in ons gemeenskappe te vestig.”
Louis Cook, takvoorsitter van AfriForum Mosselbaai, het genoem dat genl Roland de Vries sy aanbieding aan die teenwoordiges per e-pos beskikbaargestel het.
De Vries is ‘n kenner op die gebied van gemeenskapsveiligheid en het by monde van Cook gesê dat sodanige strukture binne en deur die gemeenskap gevestig moet word en nie deur oorhoofse strukture afgedwing moet word nie. Indien dit die geval sou wees, word die effektiwiteit daarvan negatief beïnvloed.
Dr Theo de Jager van SAAI en Joy Cook.
Paneelbespreking
Ernst Roets, hoof van beleid by AfriForum het die paneelbespreking ter aflsuiting van die veiligheidseminaar gelei.
Raadslid Leon van Dyk, portefeuljeraadslid vir gemeenskapsveiligheid was ook op die paneel en het op versoek van Roets uitgebrei oor Mosselbaai se veiligheidsinisiatiewe. Van Dyk het na die pasvoltooide gesamentlike beheersentrum verwys.
“Die sentrum is sonder begroting opgerig. Van buite is dit klaar, maar die werk binne begin nou, waarvoor ons opnuut begroting kort. Die antwoord is nie altyd begroting nie, maar innovasie en deel hiervan is strategiese vennootskappe. Ons moenie ophou planne maak nie,” het Van Dyk gesê.
Verskeie privaat entiteite op Mosselbaai, het reeds ingekoop om die gesamentlike beheersentrum te steun.
Op sy beurt het dr Ivan Meyer bygevoeg dat daar altyd begroting in die Wes-Kaap sal wees, aangesien eties morele leierskap binne die kabinet heers. Meyer het vroeër genoem dat distriksmunisipaliteite wel begroting vir veiligheid ontvang het, maar dat die oogmerk is, soos ook aangedui deur Wes-Kaapse Premier Alan Winde, om tot R 1 miljard aan veiligheid in die Wes-Kaap te spandeer.
Meyer het ook gesê dat hy daarop aandring dat armoede tot ‘n pandemie in die Wes-Kaap verklaar word. Volgens Meyer behoort dieselfde strategiese stappe toegepas te word soos om die Covid-19 pandemie te beveg. Hy meen dat die Wes-Kaap ‘n loodsprojek hierin van stapel moet stuur.
Hy het groot gewag gemaak van aktiewe burgerskap en ook dat moeite gedoen moet word met die skep van ‘n liefde vir landbou wat op sy beurt, landelike veiligheid in die hand sal werk.
Dr Theo de Jager se reaksie op die stelling dat volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan, die landbousektor in 2030 ‘n miljoen werksgeleenthede moet lewer om armoede teë te werk, was dat dit haalbaar is slegs as welvaart geskep kan word. Hy was positief dat die landbousektoer wel hierdie welvaart kan skep.
Hoewel die meganisasie op plase en die toenemende gebruik van tegnologie werksgeleenthede bedreig het De Jager gesê dat dit nie die geval hoef te wees nie, mits ons anders beign dink oor wiskunde- en wetenskapopvoeding reeds op laerskoolvlak.
“As ons nie kans sien vir die uitdagings wat hierdie land bied nie, het ons nooit hier ‘n toekoms gehad nie. Ons is al 370 jaar lank hier. Ons sal dalk nooit Afrika se probleme verstaan nie, maar ons verstaan dit beslis beter as China en ander,” het De Jager afgesluit.
As deel van die program, het AfriForum ook ‘n veiligheidsoudit by Laerskool Hartenbos gedoen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'