MOSSELBAAI NUUS - Die munisipaliteite van Mosselbaai, George en die Tuinroete- distriksmunisipaliteit het vandeesweek met die LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, minister Anton Bredell vergader om die samewerking met betrekking tot die streekstortingsterrein te bespreek.
Die vergadering het in 'n baie goeie gees geskied en Mosselbaai se burgemeester, raadsheer Harry Levendal het die vertroue uitgespreek dat die munisipaliteite in goedertrou sal saamwerk om die streekstortingsterrein 'n sukses te maak.
Dit sluit in dat al die munisipaliteite wat geraak word, insette sal maak tot die begroting en ook die tariewe wat deur die distriksmunisipaliteit gehef sal word ten opsigte van die streekstortingsterrein.
Vir die interim sal die munisipaliteite saamwerk aan die daarstel van 'n samewerkingsooreenkoms.
Vir ten minste 12 maande sal die distriksmunisipaliteit se verordening met betrekking tot die streekstortingsterrein nie gewysig word nie. Dit sal die geaffekteerde munisipaliteite voldoende tyd gee om sinvolle wysigings voor te stel.
Mosselbaai-munisipaliteit het sy steun vir die voorgestelde streekstortingsterrein bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'