MOSSELBAAI NUUS - Twee Mosselbaaiers wat die naweek hulle lewens op die spel geplaas het om tydens onverwante voorvalle swemmers van verdrinking te red, is wyd op sosiale media lof toegeswaai.
Die voorvalle het opnuut vrae geskep oor die beskikbaarheid van lewensredders op plaaslike strande.
Diasstrand
In die eerste voorval wat op Vrydag, 12 Februarie plaasgevind het, het Wade Shaw, betrokke by Mossel Bay Surf Lifesaving Club en ervare branderplankryer, 'n vrou uit die see by Diasstrand gered.
"Ek was Vrydagmiddag in die water toe ek ver uit, amper 700m die water in en sowat 'n kilometer van my af weg, iets geels in die water sien dryf," vertel Shaw. Nadat hy 'n lewensredder, Paulus Barnard geraadpleeg het, het hy uitgeroei en 'n vrou gevind waar sy 'n geel voorwerp vasklou.
"Sy was dan bo en dan onder die water. Nadat ek haar kalmeer het, het ek haar na veiligheid gebring. Paulus het bystand gelewer, want mens pak nie 'n reddingspoging onnodig alleen aan nie."
Shaw betreur die feit dat lewensredders tans nie kontraktueel op Mosselbaaise strande ontplooi is nie.
"Plaaslike lewensredders offer baie van hulle tyd vrywillig op om diens te doen op strande. Hulle gee meer tyd om swemmers te beveilig as wat van hulle verwag of waarvoor hulle vergoed word."
Shaw het ook aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat dit hom kwel dat lewensredders nie geredelik op Mosselbaai se strande ontplooi word, soos elders in die Tuinroete nie.
"Lewensredders lewer 'n reusebydrae. Ek dink ons klub het in 30 jaar maklik 400 reddings uitgevoer."
Santos
Tiaan Botha (18), 'n leerder aan Oakdale Landbouskool was vir die reddingspoging Saterdagmiddag, 13 Februarie op Santosstrand verantwoordelik.
Ooggetuies vertel dat hulle in die branders gespeel het toe Botha met 'n vaart verby hulle die see in hardloop en begin swem.
Botha, 'n Mosselbaaier het aan die Advertiser vertel dat hy op die strand was toe hy iemand vanuit die see om hulp hoor roep. "Ek het eers gedink dis 'n grap, maar toe sien ek 'n ou in die moeilikheid."
Botha het vervaard gesoek na die pienk reddingsboei op die strand juis beskikbaar aan die publiek in geval van 'n noodsituasie, maar hy kon nie een kry nie.
"Ek het iemand op die strand gevra of ek sy opblaas body board kan gebruik en maar skrikkerig ingeswem, want jy weet nooit hoe iemand gaan reageer nie. Hulle druk jou gewoonlik ondertoe."
Botha het die lyfplank na die man gegooi en toe nader gegaan om hom uit die see te haal. Die man is per ambulans na 'n plaaslike hospitaal geneem.
"Daar was lewensredders op die strand, maar hulle was te ver weg. Ek het gesukkel om hulle aandag te trek." Botha het in 2019 lewensredding gedoen.
Lang kuslyn
"Mosselbaai is in die onbenydenswaardige posisie om met 'n kuslyn van sowat 122 kilometer te kan spog. Daar is 36 erkende strande en op 23 van hierdie strande word tydens hoogseisoen lewensredders teen 'n koste van etlike miljoene Rand ontplooi," het die munisipale woorvoerder, Nickey le Roux by navraag na aanleiding van die voorvalle gesê.
Volgens die munisipaliteit is dit, vergeleke buurdorpe wat oor slegs enkele swemstrande beskik, nie haalbaar om op elk van die 23 gewilde swemstrande vir die duur van die somer lewensredders te ontplooi nie.
"Mosselbaai beskik oor die dienste van uiters bedrewe lewensredders verbonde aan die NSRI. Nooddienspersoneel van die Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdienste ook is in lewensredding opgelei en toegerus en is telkens binne oomblikke op 'n toneel wanneer hulle ontbied word."
Noodgevalle kan aan 044 606 5000 / 606 5121 / 606 5107 of 691 3722 gerapporteer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'