MOSSELBAAI NUUS - Die lewe is vir sommiges donker genoeg. En daarom het 'n inwoner van Sonskynvallei, Hervin Botha (30) besluit om dit sy taak te maak om na minderbevoorregte inwoners in die woongebied uit te reik.
Hervin glo in positiwiteit en sien 2022 as 'n mooi jaar.
Daarom het hy onlangs sy eie sopkombuis op die been gebring en deel hy nou twee keer 'n week kos aan honger inwoners uit.
Donderdae is dit sop en wanneer Hervin se kreatiwiteit hom beetpak, maak hy sommer kerrie-en-rys ook. Saterdae roer hy met liefde mieliepap in sy groot ysterpot sodat hy dit later, steeds stomend met melk aan inwoners wat nie 'n inkomste verdien nie, kan opdien.
Hervin werk bedags as 'n versorger vir bejaardes in Diasstrand en woon reeds 'n jaar op Sonskynvallei. Hy kom oorspronklik van die Oos-Kaap.
"Ek werk as versorger met brose mense en het besluit om my eie sopkombuis te begin omdat ek 'n liefde vir mense het en graag ander wil help," sê hy.
Verlede week het Hervin groentesop voorberei en altesaam 108 mense kon 'n warm koppie sop kry. Hy koop die bestanddele vir die kos met sy eie geld aan. Hy deel tans twee keer 'n week kos uit.
Hervin het wel onlangs 'n skenking gekry om T-hemde te maak wat sy sopkombuis adverteer. Hy sê: "Ek sal dit eintlik graag voltyds wil doen. Wie weet wat die toekoms inhou."
Hervin loop van straat tot straat en deel kos uit aan inwoners op Sonskynvallei.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'