MOSSELBAAI NUUS - My eerste skoolkys, Tiaan Jonck het my met swemmende paddavissies in 'n konfytbottel asook 'n hartjiepotlood op Valentynsdag bederf.
Dit was 14 Februarie, 1989.
Ek onthou dit nog soos gister.
Ek en Tiaan het op die sportveld van Laerskool Monumentpark in Pretoria gestaan toe hy die konfytbottel gevul met troebel water en die potlood met die hartjie op, in my hande prop.
Ek onthou die potlood was al voorheen gebruik, want dit was nie 'n lang potlood nie. Eintlik het dit gelyk of iemand al vir 'n geruime tyd aan die punt kou.
Die paddavissies het my en my maatjies gefasineer en ek onthou hoe ek ten aanskoue van my opgewonde maats, die konfytbottel in 'n sloot voor die klaskamers omgekeer het. Ek het nog nooit so spesiaal gevoel soos daardie Valentynsdag nie.
Die paddavissies het vir hulle lewe geswem en ons het die kraan by die sloot oopgedraai sodat hulle in 'n sterker stroom kon beland. As ek reg onthou het ons resies met die paddavissies gejaag en al jillend en gillend langs die sloot afgehardloop.
Groot was ons skok toe die paddavissies een-vir-een in die drein aan die einde van die sloot afspoel.
Nodeloos om te sê was die vermaak van korte duur, want Tiaan se paddavissies het nie lank geleef nie.
Dit was een van die mooiste Valentynsdag geskenke wat ek nog gekry het.
Ek het nog altyd met nostalgie terugdink aan daardie Valentynsdag van 1989 en dit vir my reisgenoot vertel.
Valentynsdag 2020
Op 14 Februarie, 2020 het die einste reisgenoot my met 'n bottel van my gunsteling parfuum verras. Issey Miyake se Pure het nog nooit so lekker geruik nie.
Groot was my opwinding egter toe hy nog 'n geskenk agter sy rug uithaal. 'n Groot Consol-fles met troebelwater en 'n rooi strik op die deksel het my grootste verwagting oortref.
Die fles was vol paddavissies.
Ek weet nie waar Tiaan sy paddavissies gekry het nie, maar my reisgenoot het ure aaneen op sy kniëe in die Harry Giddey-park op Mosselbaai spandeer om die geskenk bymekaar te maak. Een-vir-een het hy versigtig die spartelende paddavissies met 'n klein visnet uit die dammetjie getel. Jy sal verbaas wees hoe vinnig 'n paddavissie kan swem. Sy geduld was min en 'n vriend se seun moes hom later help paddavissies vang.
Dit was seker een van die mooiste liefdesgebare nog.
Ek was so beïndruk met die fles vol paddavissies dat ek, in die teenwoordigheid van grootoog kinders wat met afsku vervul was, my wens uitgespreek het om een van die paddavissies te droog en dan op 'n hangertjie te pars. Ja, ek weet dit klink wreed. Ek sou dit nie regtig gedoen het nie, maar dit was my manier om my waardering vir die geskenk uit te spreek en om dit vir ewig te kan hou.
Nodeloos om te sê het die kinders my geboelie om die paddavissies die dag na Valentynsdag terug in die dammetjie by die park te gooi. Ek het steeds die leë Consol-bottel, asook die rooi strik.
Hierdie Valentynsdag gaan ek liefde vier. Nie liefde vir 'n spesifieke persoon nie. Maar liefde in die algemeen. Ek gaan 'n groot tafel dek. Ek gaan my potte laat prut en saam met al my geliefdes aansit en 'n glasie klink op dit wat vir ewig is -liefde.
Want paddavissies is nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'