Update
MOSSELBAAI NUUS - Die voortgesette aanhouding van 'n landbouer van Herbertsdale, mnr Frik Muller, was een van die besprekingspunte van 'n onlangse vergadering van landbouers van dié distrik.
Muller is steeds in aanhouding en die saak is weer eens uitgestel, hierdie keer tot waarskynlik 23 Mei wanneer sy nuwe regsverteenwoordiger, mnr Kerneels Meyer, na verwagting die hof om 'n datum sal nader om met nuwe feite vir borgtog aansoek te doen.
Muller, wat daarvan beskuldig word dat hy by drie voorvalle sedert 6 Desember tot 25 Februarie mense op sy plaas sou aangerand het, is op Donderdag, 22 Maart borgtog deur landdros Clifton Maseti in die Mosselbaai-landdroshof geweier. In totaal is 11 klagtes, onder meer van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, aanranding gewoon, beskadiging van eiendom en die besit van onwettige vuurwapens teen Muller gebring.
Georganiseerde landbou
Tydens 'n onlangse vergadering van die Herbertsdale-boerevereniging, het Jannie Strydom van Agri-Weskaap die landbouers geloof vir die wyse waarop hulle Muller in uiters moeilike omstandighede bystaan en ondersteun. Hy het daarop gewys dat sy organisasie in ledebelang fokus op die winsgewendheid en volhoubaarheid van die landbousektor.
Jannie Strydom, verteenwoordiger van Agri-Weskaap het landbouers in die Herbertsdale-omgewing toegespreek.
Wat Muller se saak betref, het Strydom gesê regsprosesse neem tyd en moet toegelaat word om hul verloop te neem. "Agri-Weskaap kan nie hul uitspreek oor die redes waarom borgtog in hierdie geval geweier is nie, en kan nie die regsprosesse beïnvloed nie. Georganiseerde landbou is wel betrokke in gesprekke met die wetgewer en meen dit is waar 'n belangrike rol gespeel kan word."
Strydom het gesê dit is van kritiese belang dat die beeld van landbou en van landbouers positief uitgebou moet word, veral wanneer die beeld vir politieke redes skeefgetrek word.
"Niemand is verhewe bo die wet nie. Landbouers moet besef dat kortpaaie gevolge meebring. Die uitdagings is enorm om kalm en binne die raamwerk van bestaande wetgewing probleme effektief aan te spreek."
'n Beroep is op verteenwoordigers van Agri-Weskaap in die besonder, maar ook op georganiseerde landbou in die breë gedoen om pro-aktief met ingeligte raad landbouers by te staan in gevalle waar dit nodig is. Krige Zietsman het benadruk dat landbouers so gou moontlik van hulp en korrekte advies voorsien moet word in gevalle waar daarom gevra word.
Afriforum
Die verteenwoordiger van die burgerregtegroep AfriForum, Louis Cook het die landbouers van hul voortgesette steun verseker en het 'n oorsig gegee van die steun wat beskikbaar is. Hy het dit benadruk dat AfriForum apolities is en geen ambisie het om in die politiek betrokke te raak nie.
Hy het landbouers gewys op hul reg om hulself, hul eiendom en gemeenskap te beskerm en het bespreek tot watter mate AfriForum by plaaswagorganisasies betrokke kan raak.
Lees vorige artikels:
- Borgtog geweier vir Landbouer
- Landbouer steeds in aanhouding
- Borgtogaansoek vandag weer voor die hof
- Opvolg: Borgtogaansoek uitgestel
- Slenterspul met borgaansoeke in hof ontbloot
- Opvolg: Borgtogverhoor van boer
- Boer se borgtogaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'