BLOG - “Ons het nie tyd gehad om afskeid te neem nie.” Sy staan met lang gesig en begrafnis in haar oë.
Dat my Engelse kollega soveel verlies ervaar oor haar laataand tee met Vrouekeur in die hand wat nou in sy peetjie is, spreek boekdele.
“Dis belangrik vir ‘n vrou om met haar tydskrif te kan gaan sit. Dis hoe ek afskakel en herlaai. Do you know what I mean?”
Ek begryp maar alte goed.
In 1998 het ek die Vrystaat amptelik verlaat, maar die Volksblad was nog altyd onlosmaaklik deel van my beslag as mens. Eintlik, as ek doodeerlik moet wees, het die koerant vroeg reeds soos ‘n kristalbal geblink met ‘n kykie na my toekoms in hom opgesluit.
Maar na 116 jaar het Volksblad in tasbare vorm, die oudste Afrikaanse dagblad, verlede week die laaste asem uitgeblaas. Dít, vanweë ‘n sinsnede waarmee Suid-Afrikaners nou reeds goed bekend is - "Covid-19 verwante oorsake".
Volksblad het opgesukkel knap na die Anglo Boereoorlog en het onder meer twee wêreldoorloë, asook die Groot Depressie oorleef. Maar ‘n virus, was die doodskoot.
In my vormingsjare, was my ma die dorpsbibliotekaresse. Boeke, tydskrifte en koerante was vrylik beskikbaar. Mens kan amper maar sê dat ek die daaglikse nuus saam met die alfabet ingekry het.
As jy my ma ken, sal dit jou verstom dat sy daartoe in staat was om die mees bisarre stories in daardie Volksblad te kon vind. Dan het sy haar boonop genoop gevoel om dit met iemand te deel. Daardie iemand was gewoonlik ek. Die stories het my dikwels snags grootoog in my bedjie laat lê. In my onderbewussyn was ek dalk reeds ‘n joernalis.
Sou ek haar hoor skreelag, was dit gewoonlik oor Stop van myne, Johan van Wyk se rubriek. Hy het soms só kaalvuis onder die regse establishment van my komvandaan ingeklim, dat selfs vredeliewende liberales soos ons, se tone moes krul.
Die een ding wat my ma tot vandag toe nog ongemanierd verslind, is ‘n koerant. Soos ‘n wafferse forensiese patoloog, sou sy die Volksblad dissekteer, letterlik tot al die blaaie sonder volgorde in ‘n hoop op die vloer lê. Wee die een wat op hierdie papierfiasko sou afkom in die hoop om met die dag se jongste nuusgebeure agteroor te sit. Teen die tyd dat jy die blaaie in volgorde het, was jy te gedaan om nog te lees ook. Vandag maak ek seker, as ons ‘n koerant deel, dat ek hom eerste kry.
Maar nietemin, tussen die blaaie van die Volksblad het ek geleer hoe belangrik ‘n persepsie van die son- én die skadukant van die lewe is om te kan beweer dat jy ‘n gebalanseerde mens is.
Arthur Miller het gesê dat ‘n goeie koerant ‘n nasie in gesprek met homself is. Maar een van daardie stemme is nou stiller, ofskoon dit dalk gillend vir aandag in ‘n virtuele ruimte gaan probeer voortbestaan.
Gee ontspanning, hou die massas dop;
gee elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord,
en stoot die sirkulasiesyfers op.
Dié resep gee DJ Opperman in Joernaal van Jorik. Immer die syferstryd. Dis inderdaad nog steeds dieselfde poeding, maar o wee, dis ‘n heel ander sous. Nou kom daar net ‘n hele nuwe tegniese getalgesprek waarby terme soos organic reach en unique visits iets is waarvan joernaliste wat nog skryf met ‘n potlood verkies (soos ek), weinig verstaan.
Mens voel die verlies egter aan jou lyf, glo my. As jy nie ink in jou are het nie, sal jy dalk nie verstaan nie. Maar die saak staan so. Toe ek destyds by die Mossel Bay Advertiser begin werk, sê ek gemaak onverskillig vir ‘n plaaslike sakeman: “Dis nou nie die New York Times nie, maar…”
Hy onderbreek my sin met woorde wat tegelyk so verlossend en verdoemend soos ‘n scoop se hoofopskrif kom. “Wel, dis Mosselbaai se New York Times.”
Ek het hom nooit gesê watter gravitas sy woorde nou nog aan my nederige nering gee nie.
Week na week, tel ons ons seëninge en ook die blaaie van ‘n krimpende koerant. Sonder dat hy besef, gee ‘n vriend ‘n paar pleisters vir my wonde. “Daar is mense, soos my ma, wat religiously die Advertiser koop. Dit sluit hulle week af en begin hulle naweek, maar meer as dit – dit is deel van die legkaart van hulle lewens. Sonder daai deel val alles inmekaar vir hulle.”
Dit gee my moed. Dít en ook die woorde van die Duitse skrywer, Karl Gutzkow wat gemeen het dat joernaliste die vroedvroue en grafgrawers van hulle tyd is.
My tyd, is nog nie verby nie. My koerantkaperjolle, ook nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'