KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Klein-Brakrivier VLV het tydens hul maandbyeenkoms op 30 Augustus, soos gewoonlik, ‘n vol program aan lede en gaste gebied.
Die oggend het weggespring met die bekende plaaslike belly dancer, Lirian Alencar wat die vroue se heupe laat wikkel het.
Lirian het groot applous uitgelok toe sy tot almal se verbasing ook op Meisie sonder sokkies ‘n item gelewer het. Lirian het ‘n geskenkbewys aan een gelukkige VLV-lid geskenk.
Die volgende spreker was Johan Snyman van die Groot-Brakrivier-brugklub, wat dié ingewikkelde kaartspel in gewone taal kom verduidelik het.
As die enigste van die manlike geslag die oggend, het die vroue aan sy lippe gehang en baie vrae gevra. Johan het ook gratis opleiding aan mense wat belangstel, aangebied.
Die laaste gas vir die oggend was Amanda Marais van Provision Wellness wat oor persoonlike welstand gesels het.
Amanda met 16 jaar se ervaring, het ‘n alternatiewe hantering van baie algemene probleme soos moegheid, pyn, velaandoening, sinusitis, spysvertering-kwessies en meer, bespreek.
Twee gelukkige lede het groot geskenkbewyse van Amanda gekry.
Daarna het almal weggeval aan smullekker kerrie en rys wat die gasvroue van die dag voorgesit het. Dit was egter nie al nie, ‘n nuwe intrekker in die omgewing Nazier Samodien het watertand Maleise geregte vir die oggend geskenk.
Daar was alles en nog wat soos briyanie met sambal, samoesas met maalvleis, kerrie en mielies met kaas en daltjies wat alles baie gewild was en blitsig opgeraap is.
In September kan almal uitsien na ligte lente-vermaak.
Vir meer inligting oor al die bedrywighede van die Klein-Brakrivier VLV-tak of om aan te sluit, kontak vir Retha Horn (063 797 4695).
Johan Snyman gesels oor die kaartspel brug.
Lirian lewer 'n dansitem op Meisie sonder sokkies.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Brakrivier, Tuinroete nuus'