MOSSELBAAI NUUS - Kinders van so jonk as 12 word op Mosselbaai deur dwelmhandelaars gebruik om verbode middels te smokkel.
Nie net sukkel die polisie om die dwelmhandelaars vas te trek nie, maar die gemeenskap van Mosselbaai staar 'n groeiende dwelmkrisis in die gesig.
Volgens die polisie gebruik dwelmhandelaars kinders tussen die ouderdomme van 12 en 17 om hul dwelms in die gemeenskap van een plek na 'n volgende te smokkel. Boonop beskerm die Kinderwet minderjariges wat met dwelms betrap word teen vervolging.
Dit is dus byna onmoontlik vir die polisie om die dwelmhandelaars met die smokkelary te verbind.
'n Polisiebeampte wat gereeld in dwelmoperasies betrokke is, sers JM Spangenberg sê dwelmhandelaars het die geleentheid gesien om kinders as dwelmmuile oftewel runners te gebruik.
"Wanneer ons die kinders vang gaan hulle nie na die aanhoudingselle toe nie, hulle kry in die meeste gevalle opgeskorte vonnisse. Ons arresteer hulle en volg die proses, maar die kinders gaan nie na 'n kriminele hof toe nie.
"Die dwelmhandelaars het slim geraak en gebruik nou minderjariges om hulle werk te doen, want wat kan die polisie aan die handelaar doen as 'n kind gevang word? Die hele proses stop net daar."
Hy sê kinders word ook deur die dwelmhandelaars geleer watter antwoorde om aan die polisie te verskaf.
"Ons kan niks doen as 'n kind sê hy of sy het nie geweet wat in die pakkie is nie."
Gemeenskapsentrum
Mosselbaai sal binne die komende jaar 'n gemeenskapsentrum vir dwelmverslaafdes op die been bring. Volgens Setchmor Rhoodes, voorsitter van die plaaslike dwelmaksie-komitee staar Mosselbaai 'n sosio-ekonomiese krisis in die gesig.
"Daar is verskillende strategieë waarna ons kyk, maar dit is 'n probleem dat kinders gebruik word om dwelms te smokkel omdat die polisie nooit die dwelmbase gevang kry nie, maar slegs die kinders. Die oorsaak van die probleem word dus nie aangespreek nie."
Rhoodes sê die kinders wat betrokke is, is dikwels kinders sonder rolmodelle. Hulle kom uit slegte ouerhuise en staar armoede in die gesig.
"Ons moet dus eerstens die probleem by die ouerhuise aanspreek."
Hy sê dit is belangrik dat almal hande neem.
"Dit help nie ons wag net vir die polisie nie, ons moet saam hande vat en ophou om die bal vir mekaar te gooi. Dit gaan 'n spanpoging verg om die probleem aan te spreek," sê Rhoodes.
Oplossings
Spangenberg sê omdat die kinders wat misbruik word nie geld het nie, sal hulle selfs vir so min as R250 'n week dwelms smokkel.
"Ons kort meer bewusmakingsveldtogte by kinders, sodat hulle kan besef hulle word misbruik. Skole behoort op 'n weeklikse basis toegespreek te word. Kinders moet besef hulle kan nie net pakkies aandra as hulle nie weet wat in die pakkie is nie."
Wat die proses boonop vertraag is dat wanneer die polisie wel 'n verdagte middel in iemand se besit vind, dit eers by 'n laboratorium in Kaapstad ontleed moet word om wel te bewys dat dit 'n onwettige middel bevat.
"Die sake kom dus dikwels nie eens op die hofrol nie. Mosselbaai-landdroshof het van die knapste aanklaers, maar dit help niks as die die proses so lank vat nie," sê Spangenberg. Hy sê kinders wat uit meer gegoede huise op Mosselbaai kom en wat aan dwelms verslaaf raak, onderhou dikwels hulle gewoonte met hulle sakgeld.
"Namate hulle meer verslaaf raak sal hulle begin om hul ouers se besittings te verkoop. Wanneer dit ophou, begin hulle steel of hulle gee hulle liggame weg. Die gehalte van sekere dwelms is soms so swak dat kinders dubbel daarvan moet gebruik om 'n effek te voel, so deesdae spuit hulle sommer die middels op plekke op hulle liggame in waar dit nie maklik sigbaar is nie, soos tussen hulle tone.
"Dwelms onder kinders is so uit beheer dat enige hand wat vry is moet ingryp."
Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'