Update
GEORGE NUUS - Hulle het versmoor. Dít was die oorsaak van klein Jacorene Vaaltyn (9) en Sharon Arries (10) se dood.
Dié bevinding is Dinsdag 31 Oktober deur die getuienis van die forensiese patoloog wat die nadoodse ondersoeke op die twee dogtertjies gedoen het, bevestig.
Die getuienis vorm deel van die moordverhoor waarin 'n man van Albertinia, Timothy Ova (54), daarvan beskuldig word dat hy die twee dogtertjies in September verlede jaar by sy huis in Janfiskaalstraat vermoor het.
Ova staar vyf aanklagte in die gesig waarvan twee moord is en een dwarsboming van die gereg. Hy het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.
Tydens die nadoodse ondersoek is daar fyn sand in hul lugweë, neuse en monde gevind wat daarop dui dat die kinders die sand ingeasem het.
Daar is ook sand in Sharon se keelklep gevind. Van hul organe was ook vol bloed wat aandui op versmoring.
In sy pleitverduideliking aan die begin van die verhoor het Ova gesê dat hy weens die toename in misdaad, 'n lokval by sy huis gestel het. 'n Gedeelte van Ova se sinkhut, wat aan die hoofhuis op die perseel vas is, is glo oor 'n gat gebou en weens verskeie inbrake het hy besluit om die gat met sandsakke en 'n houtpalet as 'n lokval in te rig om enige voornemende rowers vas te trek. Sou iemand daarop trap sou dit inmekaarval.
Die liggame van Jacorene en Sharon is op Donderdag 22 September 2022 in Ova se huis gevind ná hulle die vorige dag as vermis aangemeld is. Jacorene se liggaam is in die gat onder Ova se bed gevind en Sharon s'n in 'n blou plastiekdrom. Albei was in lakens toegebind.
Dogtertjie se pa getuig
Sharon se pa en twee ander mans het op die kinders se lyke afgekom ná hulle glo Ova se deur moes afbreek. Sharon se pa het verlede week getuig oor die noodlottige dag toe hulle die kinders se lyke gevind het.
Tydens die pa se getuienis het die hof gehoor dat hy en twee vriende die kinders by Ova se huis gaan soek het.
Volgens hom moes hulle egter 'n slot aan die buitekant van Ova se sinkhut se deur afbreek en die deur oop skop om toegang tot die hut te verkry.
Ova is glo deur Sharon se pa gekonfronteer waarna hy uit die hut gevlug het deur dieselfde gat waarin Jacorene se liggaam gevind is.
Sharon se liggaam is daarna in die drom ontdek en die polisie is ontbied. Ova is die volgende dag, Vrydag 23 September, in Albertinia in hegtenis geneem.
Die hof het gehoor dat Sharon se pa die Woensdag en vroeër die Donderdag wat hulle liggame gevind is, vir Ova gevra het of die kinders by hom was en hy het dit glo ontken.
Die saak dien voor regter Matthew Francis. Ova word deur adv. Flip Theron verteenwoordig en adv. Lenro Badenhorst is vir die staat.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao. Alistair Rezant van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Vorige artikels:
- Albertinia kindermoord: Dogtertjie se pa getuig
- Kindermoord: Beskuldigde pleit onskuldig
- Verhoor van vermoorde Albertinia meisies begin
- Voorverhoor van Albertinia moordsaak het afgeskop
- Moordverdagte se saak uitgestel
- Verdagte in dubbelmoord bly in aanhouding
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’