Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Immanuel-gemeente van die Evangelies-Lutherse Kerk in Suider-Afrika (ELKS) kyk met dankbare harte terug op die viering van hulle 140ste bestaansjaar wat vanaf 30 September tot 6 Oktober plaasgevind het.
Die openingskerkdiens is gewyd gevier deur 'n avondmaal wat bedien is.
Op Dinsdagaand, 1 Oktober was die fokus op die gebedsustersbond, die ruggraat van die gemeente. Hier is die rol van die susters in die gemeente se lewe van aanbidding, naastediens, onderwys en 'n positiewe Christelike lewensbeskouing onder die soeklig te plaas.
Woensdagaand, was gevul met herinneringe wat gevier is deur gesange van weleer en die verlede is toegelig met staaltjies uit lede se persoonlike groei onder die kerk se beskerming. Daar is met genoeë geluister na vertellings uit die verlede.
Ook die kleinspan het gedeel in die vieringe toe hulle versnaperinge kon geniet, onderwyl hulle leersame en opgewekte geskiedenislessies aangehoor het wat deur, deken Brandt op 'n interaktiewe wyse aangebied is.
Gemeentelede en die publiek het ook baie geleentheid gehad om in spesiaal ingerigte hokkies in gebed aan God te verkeer.
Op Vrydag, 4 Oktober, die gemeente se stigtingsdag (4 Oktober 1879), is daar vleisgebraai, opgeskep, verkope gedoen en laat spat, danksy die mannebond wat hierdie feestelikheid aangebied het. Die jaarlikse basaar is die volgende dag aangebied.
'n Hoogtepunt was die musiekkonsert waaraan kore uit Bellville-Suid en Oudtshoorn, asook die kringkoor verteenwoordigend van Riversdal tot by Port Elizabeth opgetree het. Die jeug se stemme is deur Hoërskool Sao Bras se skoolkoor verteenwoordig. Die massakoor-item is onder die dirigeerstok van Annette Strydom uitgevoer. Die feesdiens op Sondag, 6 Oktober het met 'n blaasorkes optog begin waarna die feesboodskap deur biskop Manong gelewer is. "In die geheel gaan die dank en eer aan God. Die gemeente waardeer al die ondersteuning en belangstelling in die viering van hierdie mylpaal."
Die optrede van verskeie kore tydens die musiekaand, was 'n besonderse hoogtepunt tydens die feesvieringe by Immanuel-gemeente van die Evangelies-Lutherse Kerk.
Lees vorige artikel: 140ste Feesjaar by kerk gevier
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'