MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het 'n pleidooi aan mense gerig om nie vals inligting op sosiale media te versprei nie en om nie soektogte na die vermiste 6-jarige meisie van Saldanha, Joslin Smith op hulle selfone of ander toerusting af te neem nie omdat dit die ondersoek nadelig kan beïnvloed.
Dit volg op 'n aand van hoogdrama toe verskeie politieke partye op Woensdagaand, 5 Maart, met inwoners van Mosselbaai by die varkhokke langs die N2 bymekaar gekom het in 'n soektog na Joslin.
Polisiewoordvoerder, lt kol Malcolm Pojie sê bewerings en berigte van moontlike liggings van Joslin gisteraand in die Mosselbaai-omgewing, is deeglik opgevolg met die versending van beskikbare hulpbronne, insluitend gemeenskapslede, om die geïdentifiseerde gebiede te deursoek.
"Hierdie bewerings blyk egter ongegrond te wees."
Joslin word sedert 19 Februarie vermis nadat sy laaste in die informele nedersetting, Middelpos, gesien is.
Sy het saam met haar ma en haar ma se kêrel gewoon.
President van die Patriotic Alliance (PA), Gayton Mckenzie, het 'n boodskap versprei dat mense op Mosselbaai moet gaan help en dat daar "alreeds honderde mense" na Joslin soek.
Mosselbaai burgemeester, Dirk Kotzé, het op sy Facebook-bladsy geskryf dat Mosselbaai-munisipaliteit kennis geneem het van lede van politieke partye se aansprake op sosiale media dat die vermiste meisie ná bewering in die Mosselbaai-omgewing opgemerk is.
Lede van die Vryheidsfront Plus was ook op die toneel en het video's op sosiale media geplaas.
Intussen het die Mossel Bay Advertiser bevestig dat kriminele sake by KwaNonqaba-polisiestasie geregistreer is kragtens die POPIA-wet nadat persoonlike inligting, onder meer 'n foto van 'n voertuig met 'n registrasienommer, op sosiale media geplaas is.
Intussen het vier verdagtes, insluitend Joslin se ma vandag in die hof in Vredenburg verskyn. Hulle word aangekla van mensehandel en ontvoering maar nog klagte kan later bygevoeg word.