MOSSELBAAI NUUS - Toegewyde lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan inderdaad na die onlangse uitspraak en vonnisoplegging in 'n voortslepende saak teen dwelmsmouse, getuig van Job se geduld.
Die saak teen verskeie dwelmsmouse spruit uit voorvalle wat in 2006 en 2009 gebeur het.
Jonathan Judge (57), Junnyn Jeffers (55) en Mark Meyer (53) is swaar in die Mosselbaai-landdroshof gestraf nadat hulle in 2006 aan huis van Judge in hegtenis geneem is. Die inhegtenisname het gevolg na verskeie operasies wat deur die Valke se ondersoekeenheid vir georganiseerde misdaad in George uitgevoer is.
Gedurende die verloop van die verhoor is verskeie uitsteltaktieke na bewering gebruik, soos die verandering van regsverteenwoordigers deur die verdediging, asook die afsterwe van 'n vierde beskuldigde in die saak, John Pietersen wat tot verdere vertragings gelei het.
Verder het Judge en nog 'n beskuldigde, Luzuko Pumela (40) ook tereg gestaan op 'n verdere aanklag, voortspruitend uit 'n voorval betreffende dwelmhandel wat in 2009 plaasgevind het. Die verhoor is egter in 2015 onder 'n nuwe voorsittende beampte hervat. Advokaat Herman Steyn het vir die Staat opgetree.
In die drie sake wat verband hou met voorvalle in 2006, het Judge 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf ontvang, terwyl Jeffer en Meyer elk vyf jaar sal sit.
Intussen is Judge en Pumela ook skuldig bevind op 'n klag van dwelmhandel wat betref die voorval in 2009.
Hierop is hulle tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, in geheel opgeskort vir vyf jaar. Al die genoemde veroordeeldes is ook ongeskik vir die besit van 'n vuurwapen verklaar.
Die ondersoekbeamptes in die suksesvolle saak is ao Turbo Marx van die Langeberg K9 honde-eenheid, ao Heini Rhoode en kapt Theo Pieterse van die Valke op George.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'