MOSSELBAAI NUUS - Onbekende mans het Dinsdagoggend, 31 Maart by die poskantoor op Hartenbos ingebreek.
Volgens inligting ontvang van die Da Gamaskop-polisie het 'n buurman 'n gekap gehoor en uitgegaan om ondersoek te gaan instel.
Twee onbekende mans is toe in die gangetjie langs die poskantoor opgemerk waar hulle 'n gat in die muur probeer kap het.
Hulle het by navraag gemeld dat hulle met herstelwerk aan die gebou besig was. Die voorval het tussen 03:00 en 04:00 die oggend plaasgevind.
Die buurman het onverwyld die posmeester gekontak om navraag oor die mans se teenwoordigheid te doen. Die posmeester het glo telefonies bevestig dat sy van geen sodanige werk kennis dra nie. Die mans het intussen op die vlug geslaan en is nog nie opgespoor nie.
'n Saak van huisbraak by 'n besigheidsperseel word ondersoek deur sersant Donovan Geswindt van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling. Enige persoon met inligting kan sers Geswind kontak (044 606 2200).
Alle inligting sal streng vertroulik hanteer en positiewe inligting goed beloon word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'