TUINROETE | HESSEQUA | KAROO NUUS - Met Covid-19 wat die ekonomie in ’n wurggreep het met etlike besighede wat eers vanaf vlak 3 van die nasionale inperking weer kan handel dryf, is die opsie van e-handel al hoe meer aantreklik.
E-handel is ingevolge die bepalings van die Wet op Rampbestuur reeds ‘n geruime tyd oopgestel, maar is dit werklik die reddingsboei waarna veral mediumgrootte en kleiner besighede veral op die platteland, smag?
‘E-handel ontplof’
Paul Kruger, voorsitter van die Mosselbaai-besigheidskamer meen dat baie besighede tans die e-mark betree, met veral restaurante wat ten beste hiervan gebruik probeer maak. Dit sluit veral plaaslike restaurante in wat voorheen nie wegneemetes gebied het nie. Wat hom wel bekommer, is dat dit moeiliker is om e-besighede te moniteer.
“Mosselbaai ontplof tans van e-besighede. Al wat sleg is, is dat baie nou handeldryf vanuit hulle huise, sonder lisensies of sonder dat daar aan die nodige regulasies voldoen word.”
Kruger meen ook dat die plaaslike gemeenskap nog wantrouig is om aanlyn te koop. “Verbruikers wil nog kan vat aan dit wat hulle wil koop.”
Kruger het voorts gesê dat plaaslike besighede, ten spyte van syfers wat beroerd lyk, nie moet tou opgooi nie. “Daar word baie werk agter die skerms verrig om die ekonomie weer aan die gang te kry.”
Kies reg
Fanus Truter, direkteur van die finansiële maatskappy Moore in George, is van mening dat e-handel wel besighede se redding kan wees, veral gedurende die grendeltyd, omdat dit ook ‘n uitkoms aan die verbruiker bied. Maar, sê Truter, dit kan ook die doodskoot wees vir besighede in middelslaggrootte dorpe. “Dit gaan moeilik wees om met die goed ge-oliede groot besighede wat wêreldwyd aflewer te kompeteer.”
Volgens Truter moet besighede dalk eers die uitdagings en geleenthede teen mekaar opweeg voor hulle die e-mark betree. “Gedagtig daaraan dat besighede sal moet kompeteer met groter ondernemings wat wêreldwyd aflewer, is die infrastruktuur vir die neem van bestellings, verpakking en vervoer ‘n oorweging, asook die toegang tot ‘n verskeidenheid van verskaffers en kliënte.”
Voordele
Wat volgens Truter tot voordeel kan wees is dat plaaslike besighede ‘n kennis van die area en sy gemeenskap se behoeftes het, wat hulle in staat stel om ‘n meer persoonlike diens te lewer.
“Daar is nie oorhoofse korporatiewe koste ter sprake nie, maar die uitgebreide familie kan ingespan word byvoorbeeld oupa verpak, kleinboet lewer af en ma hanteer die geldsake. Gunstige belastingvoordele is aanloklik as jy as mikrobesigheid of kleinsake korporasie handeldryf. Boonop is die agt tot vyf werksdag iets van die verlede. Jy kan nou 25 uur van die dag werk as jy verkies.”
Truter sê wel dat een van die grootste onbekende faktore is, wat die nuwe “normaal” in ‘n unieke dorp soos Mosselbaai sal wees.
“Talle besighede op Mosselbaai is suksesvol omdat verbruikers met baie tyd op hande, soos vakansiegangers en afgetredenes van winkel tot winkel loop en inkopies doen. Ons weet nog nie wat die patroon na die koronavirus gaan wees nie.”
Wêreld is oop
Truter reken dat heelwat plaaslike verbruikers wel gereed is vir e-handel, alhoewel ‘n groot komponent nie elektroniese handel onder die knie het nie. “Ek verkondig al ‘n paar jaar die buy local, sell global-konsep. E-handel maak die wêreld oop. Hier is ‘n lughawe en ‘n hawe, dus kan produkte relatief vinnig die wêreld ingestuur word, veral as die wisselkoers gunstig is. Nie alle produkte is egter geskik vir die uitvoermark nie.”
Volgens Truter, sal besighede wat op die plaaslike verbruiker staatmaak, baie kreatief moet dink en mooi moet besluit oor watter kombinasies hulle gaan gebruik. Dit sluit in selfvervaardiging en -aflewering van produkte; laasgenoemde plus die inkorporering van ander se produkte by aflewering; die gebruik van die tuisnywerheid- of koöperasiekonsep; of die formele samevoeging van besighede in een maatskappy.
Wat die oorskakeling na e-handel betref, sê Truter dat dit baie vinnig en effektief kan wees, maar nie noodwendig maklik vir almal nie. “Die belangrikste oorweging is – kan jy die produk vervaardig en aflewer binne die kliënt se verwagting en steeds ‘n wins maak.”
Soveel geleenthede
Lynette Whittaker van Grindstone Advertising op Mosselbaai meen dat Suid-Afrika nog ver agter die res van die wêreld is wat e-handel betref, maar dat die nasionale inperking dalk vir baie besighede ‘n rigtingswyser is.
“Op die langtermyn, is dit ‘n slim opsie. Jou besigheid kan van enige plek af bestuur word en jou oorhoofse uitgawes kan laag gehou word. Party suksesvolle aanlyn-besighede bestaan uit so min as vyf mense. Die aanlyn-koopproses is maklik beheerbaar, ook administratief.”
In Suid-Afrika, meen Whittaker, is aflewering e-handel se grootste vyand. Koerierkoste is hoog vanweë ‘n verskeidenheid veranderlikes wat die prys opjaag.
“Ek sê lankal, as ek moes belê in ‘n nuwe besigheid, sou dit koerierdienste wees.”
Sy verduidelik dat die omskakeling na e-handel redelik eenvoudig is. Die keuse van ‘n webwerf-ontwikkelaar is baie belangrik vanweë die sekuriteitsaspekte betrokke.
Verbruikervriendelik
“Jou webtuiste moet 100% geskik wees om via ‘n selfoon of tablet aankope te kan doen, aangesien 70% van verbruikers dit so verkies. Die webwerf moet ook vinnig en maklik kan navigeer. Volgens navorsing spandeer mense slegs sewe sekondes op ‘n webwerf voor hulle besluit om weg te beweeg as dit te stadig laai of as hulle sukkel.”
Sy sê tot 85% van verbruikers oordeel ‘n besigheid se geloofwaardigheid op grond van hoe hulle webwerf lyk en op die kwaliteit van hulle plasings op sosiale media. Whittaker maan teen onbetroubare webtuiste-ontwikkelaars wat “spotgoedkoop” dienste aanbied.
“Mens kry waarvoor jy betaal.”
Die omskakeling na ‘n e-handel kan binne ‘n maand gedoen word en kan tussen R10 000 en R30 000 kos, volgens Whittaker.
Whittaker sê dat die grendeltyd Suid-Afrika geforseer het om 10 jaar die toekoms in te dink. “Daar is soveel geleenthede - dit moet net reg aangepak word.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'