MOSSELBAAI NUUS - Dit gaan goed met die twee honde van die vermoorde Human-egpaar, wat ten tye van Tewie en Eurika se grusame dood, in hul eienaars se woning toegesluit is. Die troeteldiere is die stille getuies van die gruwelike moord wat Groot-Brakrivier geruk het.
Jessica (Staffordshire-bullterriër) en Tikkie (Yorkshire-terriër), was vir minstens vier dae in die moordhuis saam met Eurika se liggaam toegesluit. Forensiese deskundiges en Groot-Brakrivier-polisie het op Saterdagaand, 18 Junie, 'n deur van die slagoffers se huis in Sandhoogtepad oopgebreek, nadat bure en 'n vriendin van die Humans onraad vermoed het. Binne die huis het 'n skokkende moordtoneel en twee getraumatiseerde honde op polisielede en omstanders gewag.
'n Buurvrou van die Humans, Amanda Cloete en haar man, Nico, het hulle na die voorval oor die twee honde ontferm.
"Jessica moes beslis gesien het wat gebeur het, want sy is verskriklik gespanne en Tiekie was by Eurika in die kamer. Ons is reeds twee keer veearts toe en sy drink nou kalmeerpille," het Cloete destyds aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die Humans se dogter Tineka Vos en haar man Carlo woon in Costa Rica en het Jessica aangeneem. Hulle sê dit gaan goed met haar. "Jessica het onlangs verjaar en sy is nou ses jaar oud."
'n Speurder by die Groot-Brakrivier-polisiestasie, ao Boekies Kotze, wat ook op die moordtoneel was, het vir Tikkie aangeneem. Dit gaan goed met haar ook en sy word glo vreeslik bederf. "Dit gaan beter met die honde as met ons," het Carlo Vos aan die Advertiser gesê.
Tikkie
Die Humans se dogter, Tineka saam met haar man Carlo en Jessica.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'