MOSSELBAAI NUUS - Verlede jaar vier 'n tante van my haar 80ste verjaarsdag. Bykans 50 jaar in verpleging, was haar onverantwoordelike emmerlysie-verjaarsdagwens, 'n motorfietsrit om die dorp. "Ek is mos mal oor spoed," verras sy ons almal met haar verduideliking.
Die oudste van ses kinders en self 'n ma van drie en ouma van vyf kleinkinders tussen 11 en 21 jaar oud, is sy die epitoom van my Karoo-ouma (gebore 1910) – 'n vrou op wie se huweliksertifikaat onder "beroep", sowaar gestaan het "boer".
Tydens 'n onlangse besoek aan die familieplaas, ontdek ek tydens 'n snuffeltog 'n piepklein sakboekie uit 1953. Amper onopsigtelik agter in die boekie, in netjiese sierskrif in vulpen geskryf – 'n gediggie deur tant Ria, tóé maar 15 jaar oud.
My Moeder
Wie het my veilig hier gelei
Geen trouer gids was daar as sy - my Moeder.
Sy het my aan haar skoot laat kniel,
gevorm en voed my kindersiel - my Moeder.
Haar liefde teer het my omhul,
was ek met kindervrees gevul – my Moeder.
Moeder, u sal ek nooit vergeet – Moeder, my Moeder.
My ouma was die beskeidenheid self. Of sy ooit hierdie gedig gesien het, weet ek nie.
Soos ek haar onthou, sou haar mondhoeke opwaarts krul terwyl sy dit in haar voorskootsak bewaar en maar net soos altyd, haar normale gang gaan. Want dís wat moeders doen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'