Update
MOSSELBAAI NUUS - Regter Nathan Erasmus het verlede Vrydag die 21-jarige plaaswerker, Johannes Bangiso in die rondgaande hoërhof op Mosselbaai tot effektief 22 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op sy werkgewer, die 52-jarige Sharon Lee Bester van Albertinia.
Bester se liggaam is in Oktober, 2017 in haar huis op die plaas, Zout van die Aarde deur werkers gevind. Sy het op haar bed gelê en daar is aanvanklik vermoed dat sy weens natuurlike oorsake dood is.
'n Nadoodse ondersoek deur dr Christa Hattingh het egter die teendeel bewys en Hattingh het bevind dat Bester weens verwurging oorlede is.
Kort nadat dit aan die lig gekom het, het die polisie Bangiso, wat op die plaas grootgeword het, gearresteer. Hy het sekere uitwysings gedoen en het erken dat hy Bester vermoor het.
Teleurstelling
Op sosiale media het mense die afgelope week hul teleurstelling met die vonnis uitgespreek, iets wat Erasmus tydens sy vonnisoplegging voorspel het.
Dit is egter belangrik om te verstaan hoekom Erasmus die vonnis só opgelê het.
Indien mense nie gereeld in die hof sit nie, wat die meeste inwoners uit die aard van die saak nie doen nie, is dit dikwels te verstane dat daar 'n wanpersepsie bestaan van wat die wet vereis en hoekom hierdie vonnis, wat beslis goed deurdink is, aan Bangiso opgelê is.
Wat belangrik is om te onthou, is dat daar verskeie versagtende faktore ter sprake is. Bangiso het deurgaans oop kaarte gespeel en het nie die hof se tyd gemors het. Hy het berou getoon oor sy dade en was, in Erasmus se woorde, mansgenoeg om te erken dat dit nie slegs die drank se skuld was wat hy op die betrokke dag gedrink het, wat tot die moorddaad aanleiding gegee het nie. Bangiso het nie 'n misdaadrekord nie en is relatief jonk.
Erasmus het tydens vonnisoplegging gesê dit is baie gevaarlik om net na die koue feite van die saak te kyk sonder om die omstandighede in ag te neem. "As 'n mens na die koue feite kyk, sien jy 'n persoon het ingebreek, geroof en 'n weerlose vrou vermoor. Wanneer ons egter na die omstandighede kyk, gee dit 'n totaal ander prentjie."
Die ander prentjie
Die ander prentjie is dat Bangiso onder druk verkeer het omdat sy meisie en die ma van sy kind hom gebel het en aan hom gesê het dat 'n familielid haar aangerand het en dat hy haar en hulle seuntjie op Riversdal moet kom haal. Hy was wel onder die invloed van drank, maar dit het tydens die hofverrigtinge duidelik geword dat sy intensie nie uit die staanspoor was om Bester te gaan vermoor nie. Die moord was dus nie met voorbedagte rade beplan nie.
Volgens die inligting wat aan die hof gegee is, het Bangiso op sy sokkies Bester se huis binnegegaan omdat hy haar Landrover se sleutels wou kry om na sy meisie te ry. Hy is egter deur Bester in die gang verras waarna hy haar 'n vuishou toegedien het. Sy het geraas gemaak en hy het haar verwurg.
Die getuienis het ook geopenbaar dat die artikels wat geneem is, bloot geneem is om die indruk te skep dat dit 'n vreemde persoon is wat ingebreek het met die doel om te roof en te vermoor. Die beskuldigde het nie die artikels vir hom geneem nie en het dit trouens in die omgewing van die plaas bloot weggegooi.
"Geen vonnis sal ooit werklik die familielede en nabye vriende van 'n moordslagoffer kan vergoed vir hul verlies nie.""Hier was, soos in die meeste moordsake, geen wenners nie."
Erasmus het tydens die vonnisoplegging gesê dat hy vir twee dae getob het oor watter vonnis hy Bangiso moet oplê. Bangiso is op die aanklag van huisbraak met die opset om te steel tot een jaar gevangenisstraf gevonnis. Op die aanklag van roof met verswarende omstandighede is hy tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Op die aanklag van moord het Erasmus, Bangiso tot 22 jaar gevangenisstraf gevonnis. Aanklag een en twee moet samelopend uitgedien word, met die vonnis van aanklag drie, dus effektief 22 jaar.
Nie boos gebore
Erasmus het tydens sy vonnisoplegging gesê dat geen mens inherent boos gebore word nie, en dat hy moet onthou dat dit 'n mens is wat voor hom sit wat gevonnis moet word. Hy het gesê dit is belangrik dat Bangiso moet boet vir wat hy gedoen het, maar ook die geleentheid gegun word om te rehabiliteer en die kans kry om 'n beter mens te word. Die regbank moet nie 'n pynbank word nie, het hy gesê.
Vonnisoplegging het nie ten doel om 'n veroordeelde te breek nie, veral nie in die geval van Bangiso wat eerlik was en sy dade beken het nie.
Opmerklik tydens die hofsaak was die wyse waarop Bester se seuns met die beskuldigde se meisie en familie omgegaan het. Dit was nie met ooglopende haat nie, en een van die seuns het Bangiso se pa, wat in die hofbank gesit en huil het, se hand gaan skud.
Hier was, soos in die meeste moordsake, geen wenners nie. Wat wel sinvol sal wees is as Bangiso nie in die tronk by 'n bende aansluit nie, rehabiliteer en 'n sinvolle bydrae tot die samelewing en in die lewe van sy seun kan maak teen die tyd dat hy uit die tronk kom.
Lees vorige artikels:
- Plaaswerker tot 22 jaar gevonnis
- Plaaswerker hoor Vrydag sy lot
- Plaasvrou wreed verwurg
- Plaaswerker skuldig aan moord
- Uitspraak in boervrou-moord
- Opspraakwekkende moordverhoor skop af
- Boervrou vermoor: Verdagte in hof
- Opvolg: Albertinia-Boervrou vermoor
- Albertinia: Boervrou vermoor
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'