MOSSELBAAI NUUS - Derek Hendriks lééf die lewe. Nie net deur prosa, poësie en musiek nie, maar veral deur te dink, antwoorde te soek, stil te word en te luister wat die lewe vir hom sê.
Maar, erken hier Prins Alberter wie spog dat sy tweede huis op Mosselbaai is, "die groot toets is om my emosies te konfronteer en my gevoelens te verwerk."
Dis dié perspektiewe wat vorm gekry het in sy debuutbundel gedigte en essays, oppe en affe, wat vroeg in September verskyn het.
“Ek pen my emosies neer, ek bepeins, ek doen introspeksie,” vertel hy. “In my lewe was ek al dikwels kwaad oor onreg. Dan skryf ek neer hoe ek voel. Ek staan snags op en vat my pen en ’n skryfboek. Ek praat dikwels met die Vader. Ek stry en baklei met Hom. Ek soek waarhede. As dit lyk of niks regkom nie, gee ’n mens mos vir God die skuld.”
Só ken hy die pyn, skryf hy, van werkloosheid, ’n gebroke huis, honger, armoede, moedeloosheid en depressie, verwerping deur mense wat hy vertrou het, van klere wat oor en oor gedra word. En hy vra in sy boek: “Wie is ek? Is ek mensgemaak?” Hy bepeins: “Is seerkry dan ’n móét?”
Dit is so dat nagte soms die donkerste is, vertel hy openhartig, met sy vrou en steunpilaar, Mariana, aan sy sy. “Daar is slapelose nagte, maar soggens sien jy altyd die lig. Dis dan dat ek weet my lewe is uitgesorteer. Daar is nie net ‘affe’ in my lewe nie – dis ook vol ‘oppe’.”
Soos sy woonomgewing, waar die Swartberg ’n reuse-inspirasie is. Sy orkes, Slam Jam, geniet toenemend erkenning. Derek het ’n ATKV-liriekkursus voltooi, waar hy as een van die top-tien van sy groep aangewys is.
Hy wen die een prys ná die ander vir sy skryfwerk op literatuurfeeste, soos die Prince Albert Leesfees en die Montagu Boekefees. Van sy gedigte is al aanvaar in die nasionale Avbob-poësiekompetisie. Tans is hy besig met die vervaardiging van sy debuut-cd, Liefling, en ’n musiekvideo.
Daarby werk hy aan ’n draaiboek vir ’n Afrikaanse fliek, Ou Loekie. “Dis die verhaal van my ouma se grootmaakkind wat al dood is. Loekie was ’n goeie ou wat die pad byster geraak het. Tog, in elkeen is daar iets goeds. Dís wat ek met dié storie sê.”
Poësie en musiek is nóú vervleg, vertel Derek, want albei het te doen met ritme, “en Afrikaans bied my skryfwerk daardie ritme. Die ritme van my taal gryp my, gee my die geleentheid om my emosies uit te druk en hoop te bied. Afrikaans is deel van my weefsel - ek ken niks anders nie.”
Derek vertel sy groot poësie-inspirasie is veral die digters AG Visser en Sheila Cussons, en op musiekgebied die sangers Garth Taylor en Anna Davel. “Anna is bereid om my as kunstenaar verder op die pad te vat.”
Noudat hy in die kunste betrokke geraak het, kan Derek skaars glo daar was jare van die uiterste frustrasie toe hy vir die departement korrektiewe dienste gewerk het, iets wat hom verveel, geïnhibeer en rigtingloos laat voel het.
“Mariana was my inspirasie vyf jaar gelede om uit hierdie lewe weg te breek en my passie te volg. Dit was nie maklik nie.”
Behalwe Mariana is sy ma, Annie Hendriks sy ander dryfkrag - so ook die ontslape musikant Charlie Botes, die skilder Hekkie Moos, sy mede-orkeslid Christy Carolissen, onderwysers wat in hom geglo het, Jules Saxon en Marta Majiet, Mathilda Mooneys en Ernie Mellet van die Amateurskrywersbond wat gehelp het dat oppe en affe die lig sien.
Sy volgende digbundel, Die gebroke diepte, neem reeds vorm aan. “Die tema is dat daar onder elke oppervlak gebrokenheid skuil, en dat dié seerkry op die een van ander manier gevul moet word.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'