MOSSELBAAI NUUS - Annelie Botes, bekroonde Afrikaanse skrywer het haar gehore drie agtereenvolgende kere verlede week aan haar lippe laat hang tydens die bekendstelling van haar jongste boek, Kammaland.
Botes sou aanvanklik net een bespreking hou in Mosselbaai, maar die skrywer se gewildheid het anders dikteer.
Binne dae was die geleentheid vol bespreek en moes 'n tweede en later selfs 'n derde byeenkoms gereël word.
Op haar gul manier het sy met gaste by die Monroe Teater waar die bekendstelling gehou is, gesels. 'n Groot verskeidenheid van haar boeke, waarvan sommige reeds uit druk is, is te koop aangebied.
Begeesterde aanhangers het met oorgawe hiervan gebruik gemaak en is met armsvol boeke daar weg, vir persoonlike leesgenot en ook om Kerskouse te vul.
Botes het vertel van die "sprokiesagtige" verblyf wat sy en haar man Chris, of die Gryse soos hy bekend is, op 'n kanaalboot in Engeland beleef het.
Sy het tydens 'n treffende aanbieding foto's gewys en verhale daaromtrent gedeel.
Die byeenkomste sou natuurlik nie afgerond gewees het, as Botes nie ook haar vernuf op die klavier kon wys nie. So het sy die gehoor begelei om die Afrikaanse volksliedjie, Die bootjie na Kammaland saam te sing.
Botes het tydens haar vertellings veral die skrille kontras geskets tussen die idilliese veiligheid wat hulle in die Engelse platteland ervaar het teenoor die misdaadsituasie in Suid-Afrika waarteen Suid-Afrikaners so gedesensiteer is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'