Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - ‘n Week ná hy op Moedersdag op die voorblad van Rapport gepryk het, begin Aldrich Kruger se behandeling vir die kanker wat na sy longe versprei het. Aldrich is ‘n leerder aan Laerskool Park en is gediagnoseer met papillêre skildklierkanker.
Verlede week was dié klong in die nuus omdat verskeie voormalige Springbokrugbyspelers hom in sy kankerstryd ondersteun.
Sy ma Lisa vertel dat alles begin het by sy kamermaat, Lolla. “Die kinders het ‘n mooi vriendskap ontwikkel omdat beide so bang was vir naalde. Dus as daar bloed getrek moes word en dies meer, het hulle mekaar so mooi moed ingepraat.” Maar toe Lolla se hare vanweë chemoterapie begin uitval, wou Aldrich haar op ‘n ander manier ondersteun. Hy skeer toe sy hare af. Pa Cornel laat toe sy hare ook waai. ‘n Video van die twee se haarskeerdery haal facebook, gaan viraal en toe hulle hul oë uitvee, staan daar amper ‘n hele Springbokspan agter hulle.
Een na die ander het groot name soos Schalk Brits, Duane Vermeulen, Percy Montgomery, Kobus Wiese en nog anders spelers video-boodskappe ter ondersteuning aan Aldrich begin stuur. In van hierdie videos, skeer die manne hulle hare om solidariteit met Aldrich te toon.
Ethienne Reynecke, oud-haker vir die Goue Leeus en Saracens, wat die bal aan die rol help sit het, het verlede week by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat toe hy hoor hoe ‘n groot Leeus-ondersteuner Aldrich is, hy dadelik die bal aan die rol help sit het. “Dit neem nie eens twee minute van ‘n mens se tyd om ‘n video te stuur nie. Dis die minste wat ons kon doen om te probeer help.”
Kyk 'n video hieronder:
Seunsgoed
Soos ‘n tipiese seun van sy ouderdom, is Aldrich mal oor vinnige motors en motorfietse. Lisa vertel dat dit gelei het tot die sogenaamde rev challenge wat ook op Aldrich se facebookblad, Aldrich the Brave te siene is. Dít, volgens Lisa het amper nog meer aandag getrek as die rugbyspelers se videos. “Bydraes is van tot sover as die VSA, Verenigde Koninkryk en Duitsland ontvang. Renjaers wat bekend is, het boodskappe gestuur.” Aldrich is selfs Daytona toe genooi om ‘n resiesmotor te kies waarin hy sou wou jaag wanneer hy eendag die kans kry. “Ek kan nie eens alles onthou nie, ek sal ‘n dagboek moet kry vir al die uitnodigings,” vertel Lisa.
Lisa sê Aldrich is in ekstase oor die boodskappe. “Voor al die boodskappe, was my kind depressief, 11 maar depressief. Nou, as hy die boodskappe kry kan jy sien dit motiveer hom om harder te baklei.” Sy vertel dat Aldrich se terapeutiese pad maar onseker is. “Dinge verander elke keer, omdat ons ook moet kyk hoe sy lyfie reageer op die behandeling. Dit is moeilik om eerlik te kan sê wat voorlê.”
Ingeperk
Covid-19 het die gesin sleg getref, sê Lisa. “Dit is beslis ‘n faktor in Aldrich se behandeling. Sy immuniteit is reeds nie goed nie. Hy was ‘n maand in die hospitaal en toe ons huis toe kom, drie weke in inperking en nou is ons weer ‘n maand in die hospitaal.” Daarom, vertel sy was Aldrich se stranddag so ‘n uitkoms. Die Krugers se gunsteling uitstappie is om Punt toe te ry en daar ‘n draairoomys te eet. Iets wat vanweë die nasionale inperking onmoontlik was.
Juan Barnard van By Grace privaat ambulansdiens het Lisa se pleidooi op facebook gesien en haar gekontak. “Juan het gevra, mits hy kan help om toestemming te kry en ondersteuning kan bied, of hy ‘n stranduitstappie kan reël.” So gesê, so gedaan. “Toe Adrich se voetjies die sand raak, toe hardloop hy. Dit was egter maar net 10-15 minute, toe moes hy eers suurstof kry.”
Die Krugers het een boodskap vir ander in hulle posisie. “As so iets jou gesin tref, moenie kwaad wees nie. Ons was en het baie vrae gehad wat niemand kon beantwoord nie. ‘n Gesin kan net saam voor God staan. Hy alleen dra jou. Ek het dit nooit geglo nie, maar dis waar. Iets binne ons het verander. Sy genade spoel oor ‘n mens soos water.”
Skermgrepe van die bemoedigende boodskappe wat bekende rugbyspelers aan Aldrich Kruger gestuur het.
'n WhatsApp-groep is geskep waarop rugbylegendes op hoogte van Aldrich se vordering gehou word.
Skermgrepe van die bemoedigende boodskappe wat bekende rugbyspelers aan Aldrich Kruger gestuur het.
Vorige artikels:
- Bittersoet moedersdag in hospitaal
- Aldrich se droom word waar
- 11-jarige kankerlyer terug by die huis
- Struikelblok in 11-jarige se kankerstryd
- Steun11-jarige se kankerstryd
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'