MOSSELBAAI NUUS - Paasnaweek is gewoonlik 'n vreugdevolle tyd waartydens families bymekaarkom en kinders Paaseiers geniet.
Vir die Kruger-familie gaan hierdie Paasnaweek in die Rooikruis-kinderhospitaal vier, waar die 11-jarige, Aldrich vir kanker behandel word.
Aldrich, ‘n graad 5-leerder by Laerskool Park, is verlede maand met stadium vier papillêre skildklierkanker gediagnoseer.
Volgens Aldrich se ma, Lisa, het Aldrich altyd met sy gestel gesukkel en is hy 'n asmalyer. Daarom was dit nie vreemd toe hy 'n hoes ontwikkel nie. Maar toe sy hoes nie wou opklaar nie, het sy Aldrich dokter toe gevat. Aangesien hy gehoes het en die kliere in sy nek opgeswel was, het die dokter tuberkulose (TB) vermoed. Aldrich is vir verder toetse gestuur. Hy het negatief getoets vir TB waarna die dokter besluit om ‘n biopsie van sy opgeswelde klier te doen. Dit het positief getoets vir kanker.
Hulle is Rooikruis-kinderhospitaal toe gestuur en op Maandag, 8 Maart het hulle uitgevind dat Aldrich stadium vier papillêre skildklierkanker het. Boonop het dit na sy longe toe versprei.
Dié soort kanker word nie deur chemoterapie of radiasieterapie behandel nie. Dit word eerder met radioaktiewe jodium behandel. Aldrich se ouers, Cornel en Lisa, verwag dat hy op Woensdag, 25 Maart ‘n operasie sal ondergaan om sy skildklier en limfknoppe te verwyder. Dit hang egter van sy longfunksie af.
Aldrich se ma beskryf haar seun as baie vriendelike kind met 'n goeie hart. Hy hou verskriklik baie van sport en is veral mal oor rugby en dans. Sy sê dat hy altyd reg is om iemand te help en ‘n regte go-getter is.
'n Trust in Aldrich se naam is deur 'n plaaslike prokureur, Fiona Williams, gestig om die uitgawes in verband met Aldrich se behandeling te help dek. Indien enigiemand 'n bydrae wil maak, kan hulle vir Aldrich se ouers Lisa (082 624 3159) en Cornel (076 564 2011) kontak vir die meer besonderhede aangaande die trust.
Aldrich Kruger ontvang behandeling vir stadium vier skildklier kanker.
Aldrich is mal oor dans. Hier is hy by verlede jaar se skoolrevue.
Aldrich Kruger saam met sy ma, Lisa en pa, Cornel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'