MOSSELBAAI NUUS - Aldrich Kruger, 'n graad-5 leerder by Laerskool Park wat aan stadium vier papillêre skildklierkanker ly, kon onlangs ten spyte van die nasionale inperking vanwee die Covid-19-pandemies, vir ‘n dag op die strand baljaar.
Aldrich het 'n suksesvolle operasie in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ondergaan om sy skildklier en die limfknoppe in sy nek te verwyder.
Die kanker het ook na Aldrich se longe versprei en dokters het verwag om dit met radioaktiewe jodium te behandel ná sy operasie. Ongelukkig het Aldrich dubbele longontsteking ontwikkel en behandeling moes uitgestel word sodat hy eers kon genees.
Intussen het By Grace, 'n privaat ambulansdiens op Mosselbaai besluit om Aldrich se wens te bewaarheid om op die strand te gaan speel. By Grace se personeel het die nodige toestemming gekry te midde van die inperking, om Aldrich na ‘n strand op Mosselbaai te neem,waar hy kon rinkink. Die nooddienspersoneel van By Grace het Aldrich en sy gesin vergesel en hulle het saam rugby op die strand gespeel en roomys geëet.
Die Kruger-familie sal op 4 Mei terug Rooikruis-kinderhospitaal toe gaan sodat Aldrich die radioaktiewe jodium-behandeling kan ontvang, wat vir ongeveer 'n maand sal duur. Daarna sal Aldrich elke ses maande dié behandeling ontvang.
Die gemeenskap kan die jongste verwikkelinge in Aldrich se kankerstryd volg op sy facebookblad, Aldrich the Strong.
Vorige artikels:
- 11-jarige kankerlyer terug by die huis
- Struikelblok in 11-jarige se kankerstryd
- Steun11-jarige se kankerstryd
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'