HERBERTSDALE NUUS - 'n Landbouer van Herbertsdale verskyn vandeesweek in die Mosselbaai-landdroshof op verskeie klagte, onder meer poging tot moord nadat hy stry gekry het met mense op sy plaas.
Dit blyk dat twee persone onlangs hout op die plaas opgetel het toe die boer hulle daaroor aangespreek het.
Na bewering, het die boer een van die persone, wat na bewering vantevore op die plaas gewerk het, aangerand.
Die twee persone het daarna in 'n huis op die boer se plaas, waar hulle gewoon het, gerus.
Blykbaar het die boer toe, met die twee persone steeds in die huis, probeer om die plaashuis af te breek.
In dié proses is die twee persone beseer en van hul besittings wat in die huis was, beskadig.
"Die boer is Sondag, 4 Maart omstreeks 17:00 op sy plaas in hegtenis geneem en word in poliseselle aangehou totdat hy vandeesweek in die hof sal verskyn op klagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, aanranding gewoon, kwaadwillige saakbeskadiging, asook vir die besit van onwettige vuurwapens wat op die plaas opgespoor is toe die polisie die arrestasie uitgevoer het," het die KwaNonqaba-polisie se kommunikasiebeampte, sers Kapp, by navraag bevestig.
Lees die nuutste hier: Boer se borgtogaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'