Om 09:38 het ek 'n oproep ontvang van 'n mnr David Wilson wat opgewonde vertel het dat daar 'n walvis op Groot-Brakrivier se strand naby die mond uitgespoel lê en dat die reuse dier lewendig is. Om 09:41 het ek die plaaslike NSRI in kennis gestel en om 10:00 was ek en my seun op pad na Groot-Brakrivier.
Volgens David Wilson het hy hondekind Lola op haar vroegoggend strand-stappie geneem ten spyte van die heerlike deurdringende reën wat geval het en ook maar goed, want nie veel ander mense het kans gesien om in die reën op die strand te gaan stap nie.
Die Boggelrug walvis het hulpeloos op die sand gelê. Laaggety was om 08:30 en as gevolg van die rowwe seetoestande het kleinerige branders dikwels oor die walvis gebreek. Ongelukkig was die posisie van die walvis van so 'n aard dat groot hoeveelhede sand ook in haar mond ingespoel het en die groot liggaam was al redelik vasgespoel in 'n sandbank.
My seun, Marcell, het probeer om die sand met sy hande te verwyder en ook gereeld water oor die dier gegooi. Dr Neil Moelich, 'n plaaslike veearts, was spoedig op die toneel en het voorgestel dat die walvis sterk genoeg lyk om 'n poging aan te wend om dit terug die see-in te probeer kry.
Die NSRI-vrywilligers van Mosselbaai het opgedaag met toue en bande wat om die stert geplaas is. Die walvis het dwars op die strand gelê en daar is hard gespook om die massiewe dier te probeer draai dat dit see toe kyk.
Intussen het heelwat plaaslike inwoners ook opgedaag wat die helpers in die water luidkeels aangemoedig het terwyl gietende reën uitgesak het. Daar was geen ontsag vir moderne tegnologie se onvermoë om nat te word nie en selfone en kameras is gebruik om die gebeure vas te vang.
'n Plaaslike inwoner het welkome flesse warm koffie kom aanbied vir al die yskoue hande.
Die helpende hande van vissermanne, inwoners en lede van Pinnacle Concervation het ook bygekom. Indien die seetoestande meer gunstig was, sou 'n boot ingespan kon word om met die reddingspoging te help.
Met die inkomende hoogwater om 15:00 was daar 'n hele paar benoude oomblikke as die moeë helpers deur groterige branders en sterk strome van hulle voete afgevee is en hulle kon soms net-net daarin slaag om betyds onder die rollende walvis uit te kom. Die situasie het lewensgevaarlik geraak en die walvis, sowel as almal wat gehelp was baie moeg.
'n Besluit moes geneem word oor die lot van die dier en hoe hartseer ookal, is daar besluit om 'n einde aan die lyding te bring en die dier van kant te maak. Ek het groot manne met trane in hulle oë gesien, hande rou en harte stukkend. Daar is iets spesiaals aan 'n walvis wat hulpeloos en tog met intelligente oë na jou staar... dit maak jou sag en jy wil onwillekeurig help, soos wat jy jou medemens in nood sou wou help.
Emosies neem die oorhand as jy manne sien wat met geboë hoofde, hande op die groot liggaam, staan en praat met 'n dier en jammer sê dat hulle nie suksesvol was nie. Adrenalien maak plek vir trane en finaliteit tree in, asook die besef dat alles menslik moontlik gedoen is.
Die walvis het om 'n rede op die strand beland – dit was heel moontlik siek en dit is in hulle natuur om dit te doen. Ons mense verstaan dit nie en soos iemand tereg op die strand opgemerk het – as die dier kon praat sou dit heel moontlik gesê het 'los my uit, julle wil my see toe laat gaan en ek wil land toe kom'.
Ek het die strand omstreeks 15:00 met 'n deurdrenkte lyf en kamera, pap batterye en ongelooflike hartseer verlaat. Ek het tot Dinsdagoggend steeds innerlik gebewe en die hele ervaring het my opnuut laat besef dat ons 'n verantwoordelikheid het in en teenoor die Skepping.
Die gebeurtenis het blywende indrukke gelaat. Scott Mosterd, 'n graad 8-leerlder en inwoner van Groot-Brakrivier se woorde: "It was amazing to see such an incredible animal so close, but the sadness of its certain death made me wonder what had caused it to wash up. Seeing the beautiful whale made me realise that just past the waves is a whole different world of creatures that also need our respect and care."
Kim Mosterd, sy ma en ook 'n Groot-Brakrivier-bewarea lid, het as volg gereageer: "A very emotional time. The brief but very sad moment in the presence of such an amazing animal was very thought-provoking."
Daar is baie teorieë en ons sal seker nooit weet wat dryf hierdie reuse van die oseane na ons strande toe nie. Ons kan egter meer pro-aktief begin optree en die noodsaaklikheid om 'n georganiseerde rampbestuur op die been te bring, raak kritiek.
Dít is die positiewe wat uit hierdie hartseer gebeurtenis moet voortvloei.
- Update: Whale carcass to be removed soon
- Update: Beached whale in Great Brak
- Beached whale: Rescue mission abandoned
- Update: Rescue mission to save beached whale
- Rescue mission to save beached whale
Click here for a photo gallery of the attempted rescue.

