Update
MOSSELBAAI NUUS - Tien vermeende bendelede wat van die moord en ernstige aanranding op medegevangenis beskuldig word het vandag in die Hoërhof op Mosselbaai aangedui dat hulle pleitooreenkomste met die staat sal aangaan.
Een van die beskuldigdes, die 20-jarige Donovan May, het reeds skuldig gepleit en is deur Regter Tashwell Papier tot onder meer effektief 25 jaar gevangenisstraf gevonnis op ‘n aanklag van moord.
May is ook gevonnis op ander aanklagte.
Die voorval hou verband met 'n wrede geveg wat op die 29ste Maart, 2016 in ‘n gemeenskaplike tronksel in die Mosselbaai Korrektiewe jeugsentrum uitgebreek het en waartydens twee mans vermoor is en sewe aangerand is.
Volgens die nasionale vervolgingsgesag het lede van die nommerbende, die 26’s lede van die 28’s met skerp- en stomp voorwerpe aangeval.
Die aanval het voortgeduur tot korrektiewe beamptes tussenbeide kon tree. Regter Papier het die saak uitgestel na more waarna die pleitooreenkomste aangehoor sal word.
Die beskuldigdes sal op verskillende aanklagte pleit, onder meer op aanklagte van moord en aanranding.
Tien beskuldigdes het vandag aangedui dat hulle pleitooreenkomste met die Staat sal aangaan.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'