Sponsored Content
SAKENUUS - Aangesien menige Suid-Afrikaners hul werksplekke na hul huise verskuif het na die Covid-19-pandemie, het 'n mens se bure ‘n groter invloed op ons daaglikse lewens as ooit tevore.
Onlangs het die Hoogste Hof van Appèl ‘n uitspraak in die saak Madrasah Taleemuddeen Islamic Institute v Ellaurie en 'n Ander 2023 (2) SA 143 (HHA) gelewer wat ‘n uitspraak van die KwaZulu-Natalse Afdeling van die Hoë Hof van Suid-Afrika tersyde gestel en vervang het.
Hierdeur is dit weereens duidelik uiteengesit wanneer die hof een party se regte ten opsigte van sy eiendom kan beperk tot so ‘n mate dat ‘die party nie 'n oorlas op sy woonbuurt is deur op 'n onredelike wyse die genot en gebruik van sy bure se eiendom te versteur nie.
Die reg tot die gebruik en genot van ‘n mens se eiendom is een van die sterkste regte wat ‘n persoon kan hê, die reg is egter nie onbeperk nie. Daar word van 'n persoon verwag om redelike beperkings te verduur.
Wanneer hierdie beperkings onredelik word, kan dit egter 'n steuring tot gevolg hê. Die bogenoemde Ellaurie-saak het hierdie beginsel verduidelik en heelwat duidelikheid gegee oor wat as 'n onredelike inmenging beskou kan word.
In hierdie geval is meneer Ellaurie, 'n man wat ongeveer 20 meter van 'n skool vir Islamitiese studies woon, onderwerp aan die geluid van die Islamitiese Oproep tot Gebed vanuit die moskee op die skool se eiendom. Die doel van hierdie oproep is om mense van die Islamitiese geloof te herinner om na die moskee te kom vir hul vyf daaglikse gebede.
Aangesien 'n mens se bure dieselfde eiendomsbevoegdhede het, kan wedersydse verdraagsaamheid van redelike versteurings as 'n burgerlike waarde gesien word.
Die hof het toe ook verduidelik dat 'n versteuring van die regte tot 'n persoon se eiendom slegs onredelik en dus vervolgbaar sal wees indien dit op ‘n ernstige en wesenlike wyse inmeng met die persoon se gewone gemak en bestaan.
Die hof het in die saak faktore gelys wat kan help om te bepaal of ‘n steuring op ‘n onredelike wyse geskied. Eerstens moet die erns van die steuring in ag geneem word tesame met die tyd en die duur daarvan. Verder, of dit moontlik is om maklik die skade wat deur die steuring veroorsaak word te vermy. Laastens moet die klaer se sensitiwiteit ten opsigte van die skade bepaal word. Met betrekking tot die klaer se sensitiwiteit het die hof egter verder verduidelik dat die versteuring nie as onredelik beskou sal word net omdat die betrokke klaer 'n spesiale vorm of buitengewone mate van sensitiwiteit vir die spesifieke versteuring het nie.
Aangesien die steuring in die betrokke aangeleentheid die gevolg was van godsdienstige verpligtinge wat uitgevoer word, het die hof ook daarop klem gelê dat die Grondwet regte ten opsigte van die beoefening van verskillende godsdienstige oortuigings beskerm.
Meneer Ellaurie was egter in hierdie geval onsuksesvol in sy poging om te bewys dat daar ‘n onredelik versteuring was tot sy reg op die gebruik en genot van sy eiendom. Die Oproep tot Gebed het dus nie ‘n onredelike oorlas vir meneer Ellaurie geskep nie.
Dit is egter belangrik om in ag te hou dat burereg en oorlasreg baie ingewikkelde aspekte van privaatreg is, wat van saak tot saak verskillend hanteer moet word.
Indien jy jouself dus in soortgelyke omstandighede bevind, sou dit wys wees om 'n prokureur te raadpleeg, aangesien daar in spesifieke gevalle alternatiewe remedies beskikbaar kan wees in plaas daarvan om die hof te nader.
Artikel deur Johan Potgieter, Kandidaat Prokureur (B.Comm; LLB)
Vir meer inligting kontak gerus vir Johan, johan@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’