Sponsored Content
SAKENUUS - In Suid Afrika word die meerderheid van huwelike binne gemeenskap van goed gesluit, aangesien wetgewing huwelike in die afwesigheid van ‘n huweliksvoorwaardekontrak as huwelike binne gemeenskap van goed ag. Die gevolg hiervan is dat ‘n gesamentlike boedel geskep word wat uit beide partye se bates en laste bestaan.
Hierdie vorm van huweliksbedeling kan egter een of beide partye negatief beinvloed aangesien daar verskeie risikos aan ‘n huwelik binne gemeenskap van goed verbonde is.
In terme van die Wet op Huweliksgoedere moet ‘n persoon toestemming van hul eggenoot kry voordat hulle ‘n kontrak sluit om vaste eiendom te vervreem, krediet ooreenkomste aan te gaan, en dies meer. ‘n Gade is dus beperk in sy handelingsbevoegdheid aangesien hy nie onafhanklik van sy eggenoot kan optree nie.
Beide partye is verder gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik vir enige skuld wat voor die sluiting van die huwelik asook daarna aangegaan is. In gevalle waar een van die eggenote insolvent verklaar word, sal die gesamentlike boedel as insolvent beskou word wat by implikasie beide partye insluit. Die gevolg hiervan is dat skuldeisers beide partye vir die skuld van die oorspronklike insolvente party aanspreeklik kan hou. ‘n Voorbeeld hiervan is waar een van die gades ‘n eenmansaak bedryf en die besigheid se skuldeisers skulde van beide gades verhaal weens die huweliksbedeling.
Die nadele en kostes verbonde aan die bereddering van ‘n gesamentlike boedel na die dood van die eerssterwende moet ook in ag geneem word in die oorweging van huweliksbedelings. Die eksekuteursfooi word op die waarde van die gesamentlike boedel bereken, waar dit in ‘n huwelik buite gemeenskap van goed slegs op die waarde van die oorledene se aandeel in die bates bereken sou word. Bo en behalwe die verhoogde eksekuteursfooi, kan die langslewende gade aanspreeklik gehou word vir die skuld in die gesamentlike boedel. Nadat die skuld in die gesamentlike boedel gedelg is, sal die langslewende gade tot hul helfte in die gesamentlike boedel geregtig wees. Die oorblywende helfte sal kragtens die oorledene se testament of in terme van intestate erfreg tussen die erfgename verdeel word.
Indien ‘n erflating nie spesifiek deur ‘n testament uitgesluit word van die werking van ‘n huwelik binne gemeenskap van goed nie, sal die bates daardeur verkry ook deel van die gesamentlike boedel vorm. Indien ‘n ouer dus byvoorbeeld ‘n bate aan hul kinders bemaak het, maar nagelaat het om die bate spesifiek van die huweliksbedeling uit te sluit, sal die bates gelykop deur die erfgenaam en sy of haar eggenoot gedeel word.
Hoewel huwelike binne gemeenskap van goedere die mees populêre huweliksbedeling is, is dit duidelik vanuit hierdie artikel dat dit sekere risikos en beperkings inhou en dus nie noodwendig meer aan elkeen se moderne behoeftes voldoen nie.
In lig van die bogenoemde sal dit raadsaam wees om ‘n spesialis in die veld van huweliksbedelings te raadpleeg om seker te maak dat u op die regte huweliksbedeling vir uself besluit.
Vir meer inligting, kontak gerus Paul Delport by paul@rgprok.com.
Sosiale media skakels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'