BESIGHEIDS NUUS - Tesame met die toename in besigheidsredding sake en die diverse uitkomste wat ervaar word in praktyk, het daar onsekerheid onder sakelui en werkers ontstaan. Die onsekerheid laat baie mense wonder of besigheidsredding ‘n lewensvatbare opsie is.
Voordat daar gepoog word om die vraag te beantwoord, is dit belangrik om te kyk wat die wetgewer se bedoeling was met die instelling van besigheidsredding as ‘n regs-remedie.
Die Maatskappyewet van 2008, wat besigheidsredding reguleer, bepaal dat die doel van besigheidsredding tweeledig is: om die maatskappy te red deur (1) sy sake, bedrywighede, eiendom, skuld en ander laste, en ekwiteit sodanig te herstruktureer dat die waarskynlikheid dat die maatskappy op ‘n solvente grondslag sal voortbestaan gemaksimaliseer word, of (2) indien dit vir die maatskappy onmoontlik is om voort te bestaan, aksies geneem word wat sal lei tot ‘n beter opbrengs vir die maatskappy se skuldeisers of aandeelhouers as wat uit die onmiddellike likwidasie van die maatskappy sou voortspruit.
Verder, met in agneming van die tweeledige doel soos hierbo genoem, is die wetlike vereistes vir ‘n maatskappy om besigheidsredding-verrigtinge te begin soos volg: “dat dit redelik onwaarskynlik is dat die maatskappy in staat sal wees om binne die onmiddellik daaropvolgende ses maande al sy skulde te kan betaal namate dit betaalbaar raak; of dat dit redelik waarskynlik is dat die maatskappy binne die onmiddellik daaropvolgende ses maande insolvent sal raak.” Wanneer ‘n maatskappy aan een van die voorgenoemde vereistes voldoen, beteken dit dat die maatskappy in finansiële nood is en kwalifiseer om onder toesig (sakeredding) geplaas te word.
In oorweë van besigheidsredding se wye tweeledige doel en die lae toegangsgrens in terme van vereistes om besigheidsredding te begin, is dit verstaanbaar dat die lewensvatbaarheid van besigheidsredding van geval tot geval verskil en sukses daarvolgens ge-evalueer moet word. Met ander woorde, tydens een besigheidsredding sal die verrigtinge suksesvol wees wanneer die spesifieke maatskappy geherstruktureer word en voortbestaan op ‘n solvente basis. In ‘n ander besigheidsredding sal die verrigtinge suksesvol ge-ag word wanneer die maatskappy nie kan voortbestaan nie, maar die krediteure ‘n beter dividend ontvang teenoor wat hulle in ‘n likwidasie scenario sou ontvang.
Vir die algemene publiek, sal die uitkoms van die laasgenoemde opsie nie noodwendig as suksesvol beskou word nie, maar wanneer dit vergelyk word met likwidasie, sal die uitkoms in besigheidsredding tien teen een beter wees vir geaffekteerde partye nl. krediteure, werknemers en aandeelhouers.
Dit kan geargumenteer word dat die term “besigheidsredding” dikwels verkeerd vertolk word, waar mense dink dat die sukses van die verrigtinge slegs gekoppel word aan die maatskappy se voortbestaan op ‘n solvente basis. Die definisie van sukses is egter baie breër en onderworpe aan die spesifieke omstandighede.
Artikel deur Enrico Acker (M.Com, Dip. Insolvensiereg) – Insolvensie- en Besigheidsreddingpraktisyn.
Vir enige advies oor besigheidsredding sake, skakel gerus vir Enrico Acker by enrico@rgprok.com of 044 601 99 00 (George kantoor).
Website: Rauch Gertenbach Webtuiste
Facebook: Rauch Gertenbach Facebook
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’