MOSSELBAAI NUUS - Die langverwagte herstelwerk aan die dak van die D’Almeidastadion sal in Oktober begin ná die afsluiting van die Mosselbaai Sporten Ontspanningsfees.
Die fees word afgesluit met die Burgemeesterstoernooi, die eindstryd wat op 13 Oktober by dié stadion sal plaasvind.
Beskadig
Die dak is erg beskadig deur die stormsterk winde in September 2023.
Ná die stormskade, waar ander munisipale infrastruktuur ook beskadig is, is 'n volledige verslag deur 'n strukturele ingenieur opgestel, waarin 'n kosteberaming vir die herstel van onder meer die D'Almeida Stadion uiteengesit is.
Versekeraars
Ná ’n proses van onderhandeling met die munisipaliteit se versekeraars, is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die kontrak vir herstelwerk aan die stadion in terme van ’n voorsieningskettingbestuursproses gedoen sal moet word.
Ofskoon die skade aan infrastruktuur by die stadion deurlopend as 'n belangrike geprioritiseer is, moes wetgewende prosesse gevolg word.
Verkrygingsprosesse
Die nodige verkrygingsprosesse is gevolg en alles is in plek vir kontrakteurs om met die herstelwerk van 14 Oktober te begin.
Daar word voorsien dat die werk voltooi sal wees teen die tyd dat die konstruksiebedryf in Desember 2024 sluit.
Samesprekings
Die Mosselbaai-munisipaliteit het verskeie samesprekings gevoer met die kontrakgebruikers van dié stadion, wat Barbarians Rugbyklub en Hoërskool Sao Bras insluit.
Met dié sessies is die implementering van die herstelproses deeglik bespreek en insette is van belanghebbendes verkry en oorweeg.
Kontrakgebruikers
Dit is deur die kontrakgebruikers aangedui dat, sou herstelwerk vroeër as Oktober begin het, dit te veel ontwrigting van sport- en ontspanningsaktiwiteite, wat by die stadion beplan is, sou veroorsaak het weens die sluiting wat vir die herstelproses genoodsaak is.
Herstelwerk kan tot ses weke duur.
Ooreengekom
Daar is dus ooreengekom dat die herstelwerk eers in Oktober sal plaasvind, ná die Mosselbaai Sporten Ontspanningsfees en spesifiek die Burgemeesters-toernooi.
Die kalender vir die Sport- en Ontspanningsfees kan op die munisipaliteit se webblad gesien word: www.mosselbay.gov.za. - Mosselbaai-munisipaliteit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’