Wyk 11-raadslid Nickey le Roux skryf:
Baie dankie aan elke Danabaaier wat die onverwagse omstandighede, veroorsaak deur die brand op 25 November, so kalm hanteer het.
Vir die eerste keer het die gemeenskap die nooduitgang as alternatiewe toegang kon gebruik.
Soos met enige noodgeval was daar veral aanvanklik 'n opeenhoping van voertuie, ook omdat die brand uitgebreek en versprei het toe die ouers hul kinders by die skole moes gaan haal en verkeer gewoonlik aansienlik hoër was. In 'n onlangse verkeerstelling is meer as
1 300 voertuie tydens spitstye by die Malvaweg-sirkel getel, wat 'n aanduiding gee van die omvang van motoriste wat bes moontlik van die noodpad gebruik sou maak.
Die noodpad was vir baie lank 'n versugting en dit is duidelik dat die raad se belegging in hierdie infrastruktuur beduidende voordeel vir ons gemeenskap meegebring het.
Soos met alle eerstes is daar lesse uit die ervaring geleer wat met die administrasie deurgetrap sal word, nie net om prosesse by die herhaling van 'n noodgeval te verbeter nie, maar ook om die ervaring vir ons inwoners te verbeter.
Ek wil my opregte dank teenoor Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuursdienste se hoof uitspreek, op wie se skouers die besluit berus het om die noodpad oop te stel; teenoor elke nooddienswerker, wat selfs brandbestryders van die GRDM en PetroSA ingesluit het; teenoor die nooddienste en ons buurtwag, wat tot in die nanag gehelp het om die vlamme te blus; asook elke vrywilliger wat betrokke was om ons inwoners, hul eiendom en ons omgewing te beskerm.
Dankie ook aan almal vir die verversings vir die nooddienspersoneel.
Inwoners word daaraan herinner dat die onus om die gebruik van die noodpad te magtig uitsluitlik by die hoof van rampbestuur berus, wat uitvoering moet gee aan die raad se gebeurlikheidsbeplanning en breedvoerige risiko-analise vir Danabaai, juis weens die oorhoofse koördinering van die talle nooddienswerkers en personeel wat ontplooi word om ons gemeenskap te beveilig.
Onthou dat 'n deel van die noodpad oor privaat eiendom strek en daarom nie opgegradeer is tot dieselfde standaard as die trajek oor munisipale eiendom nie - my dank dus aan ons infrastruktuurdepartement wat deurentyd verseker dat die grondpad selfs deur luukse voertuie met gemak gebruik kon word. Ek het verskeie blyke van waardering ontvang betreffende die toestand en toeganklikheid van die pad van mense wat besef het dat hulle in 'n noodsituasie vasgevang was en hulle daarby aangepas het.
Ons munisipale kommunikasiebeampte het inwoners met gereelde berigte op hoogte van verwikkelinge gehou, en ek moedig almal aan om by die onderskeie amptelike munisipale kommunikasiekanale in te skakel om te verseker dat hulle deurentyd oor die korrekte, geverifieerde inligting beskik - dit is veral belangrik tydens nood.
Ek doen 'n beroep op inwoners om bedag te wees op waninligting wat noodoptredes in die wiele mag ry.