Anonieme skeidsregter skryf:
Die brief is in reaksie op die rubriek van Wyndham Ewerts, Te jonk vir die tipe druk, 5 September 2025.
Dit is jammer dat die redakteur en skrywer van die rubriek hom nie vergewis het met die feite voor hy die rubriek geskryf het. Dit is jammer dat alle blaam voor die skeidsregter se deur geplaas word en hierdie jong man as die scapegoat gebruik word.
Lesers word herinner dat skeidsregters reeds vanaf die ouderdom van 16 aktief mag begin blaas. Mnr. Gertse blaas al sedert 2022.
Wanneer 'n mens na klubrugby kyk, sien ons dat daar reeds 19-jarige spelers is wat in die Superliga A speel. Dan ontstaan dieselfde vraag: is húlle nie ook te jonk vir die tipe druk nie?
Gee jy aan jong skeidsregters en spelers die geleentheid om te groei, foute te maak en daaruit te leer, of hou jy hulle terug sodat hulle stagneer en niks bereik nie?
Lesers moet ook daarvan bewus wees dat Gertse in die Ebrahim Patel-toernooi vir Bridgton en ander spanne geblaas het, waar hy aan dieselfde druk blootgestel was. Tog is daar geen negatiewe kritiek teen hom gelewer nie.
Verder het Gertse reeds sowat 110 skoolwedstryde agter die blad, asook 78 klub-rugbywedstryde, waarvan 13 in die Superliga A was. Hy het ook drie wedstryde in die Ebrahim Patel-toernooi geblaas en was by SARU-uitnodigingsweke betrokke.
Hierdie feite wys dat Gertse genoegsame ervaring die afgelope drie jaar opgedoen het om sy stempel in die Superliga A af te druk.
Waarom kan beeldmateriaal van wedstryde wat klubs reeds het, nie saam met die skeidsregtersvereniging gebruik word om skeidsregters, klubs en spelers te bevorder nie? Hoekom moet dit altyd net gebruik word om te wys wat 'n skeidsregter verkeerd gedoen het?
Hoeveel punte is misgeskop? Hoeveel aanslae is begaan? Hoeveel hoë vatte was daar? Is dit altyd die skeidsregter se skuld as 'n span met 2 of 3 punte verloor?
Gebruik eerder die materiaal wat beskikbaar is vir die bevordering van die spel en die ontwikkeling van skeidsregters op daardie vlak.