Dennis Malgas, 'n lid van die Lutherse Kerk in Mosselbaai, het 'n bietjie geskiedenis oor hoe die kerk ontstaan het met Mossel Bay Advertiser gedeel:
In 1905 het die oujongkêrel Fredrick Scheffler (31) hom as 'n sendeling in diens van die Berlynse Sendinggenootskap by die Felixburg-sendingstasie naby Gutu in die destydse Rhodesië bevind. Hy het aan prof. Ewald Edelhoff, sy voormalige onderwyser en vriend, geskryf en sy hulp gevra in sy soektog na 'n metgesel. Die Edelhoff-egpaar het besluit om Lydia Stacklies (34) vir hierdie doel te nader.
Op 29 September 1906 het Lydia in Kaapstad aangekom. Dieselfde dag is sy en Frederick in die Lutherse kerk van St. Martini getroud.
Van 1912 tot 1914 sou hy in die sendinggemeente van Riversdale werk. Hierna is hy na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog na Haarlem in die Langkloof oorgeplaas.
In 1920 is die gesin na Mossel-baai verplaas waar hulle tot in 1947 gewerk het. Met sy aankoms in Mosselbaai merk hy die volgende op: "Mosselbaai lê aan die Indiese Oseaan en is 'n klein maar oulike plekkie. Uit my kamer kan ek die see sien en die gedruis van die branders op die strand hoor!"
Al het Lydia se gesondheid agteruitgegaan, het sy haar nooit van sy sendingwerk weerhou nie. Fredrick het in 1966 afgetree en op die ouderdom van 93 jaar het hy by sy dogter in George gesterf.
Hy sal veral onthou word deur die Mosselbaaise gemeente vir die twee skole wat hy hier gebou het, waarvan Frederick Scheffler Primêre Skool en die dorp se skool die bewyse is.
Die kerkgebou in Montagu-straat was die oorspronklike kerk. Dit is vervang met 'n groter kerk in Dial Brandtstraat, wat in 1967 ingewy is.
Bron: Liewe Lydia - Liewe Fritz deur Hans Scheffler en Alba Bouwer