Charles Theunissen skryf:
Baie van Mosselbaai se ou historiese geboue, behalwe die Memorial Hall (soos deur die plaaslike gemeenskap genoem), is oor die jare in die plaaslike argiewe opgeteken.
Hierdie gebou, op die hoek van Field- en Gys Smalbergerstraat (voorheen Lower Crossstraat), het goeie herinneringe en het ook onlangs op die gewilde kykNET&kie-program KLOP! verskyn.
Van die ouer garde wat in die middedorp gebore is, nog voor die instelling van die Groepsgebiedewette, weet die Memorial Hall was oor naweke die bymekaarkomplek vir die bruin gemeenskap. Die eerste orkes uit dié gemeenskap wat hier opgetree het was die Blue Moon Akoestiese Dansorkes wat in die middel 1930's gestig is. Die bekende Bay Jazz-langarmorkes wat in die laat 1940's onder leiding van Joe Daniels en Abe Bosman gestig is, het ook later gereeld hier opgetree.
Die saal is vir die laaste drie jaar 'n groot besprekingspunt op sosiale media en lok baie belangstelling onder plaaslike inwoners uit. Volgens navorsing en onderhoude met nasate van hier is die saal aan jong manne uit die plaaslike bruin gemeenskap opgedra wat diensplig in die Eerste Wêreldoorlog gaan doen het.
Hierdie historiese gebou se ontstaan is besig om gestaltes aan te neem. Hier is 'n uittreksel van Harry Scholtz, 'n boorling van Hillstraat in die middedorp, se skrywe, "What I Remembered of Mossel Bay", uit my boek Old Sunnyside, Mosselbaai: "Mrs A Scholtz my mother and aunty Annie was in charge of the Coloured War Memorial Fund. She also helped her sister and a few whites to start Benevolent Society. She with the help of her husband, family and friends kept this War Memorial Fund to grow, so they bought a hall. Even festive seasons people used to come from afar and enjoyed the ball that was arranged for them."
Sou die saal waarna Scholtz hier verwys later die Memorial Hall heet? Wat wel bevestig kan word is dat die Rink- en Coronation-sale, asook die destydse stadsaal (wat as die eerste munisipale gebou gedien het) verbode vir die bruin gemeenskap was.
Dat die War Memorial Fund en die Benevolent Society tot 'n sekere mate met die totstandkoming van die Memorial Hall verbind kan word is definitief nie uitgesluit nie. Navorsing en argiefmateriaal, wat foto's insluit, getuig van funksies en ander gemeenskapsaktiwiteite in die Memorial Hall tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorlog.
Die Lilywhite R.V.K., een van die eerste rugbyklubs wat na afloop van die Eerste Wêreldoorlog uit die bruin gemeenskap gestig is, het ook gereeld hier vergadering gehou.
Dié terugblik is in 'n neutedop saamgevat, maar sal eersdaags in 'n groter historiese projek, wat baie verrassings insluit, opgeneem word. Vir seker gaan die Memorial Hall se nalatenskap ook verewig word.