MOSSELBAAI NUUS - Hykie Berg, 'n Suid-Afrikaanse akteur, skrywer en motiveringspreker, het Dinsdag 21 Julie gaste by die Mosselbaai-sakekamer se netwerksessie toegespreek.
Die geleentheid is by die Diaz-hotel gehou.
Berg het 'n blitsbesoek van twee dae aan die gebied gebring, waarna hy weer Johannesburg toe is waar sy vrou, Gerridene, en hul dogtertjie, Leméh, vir hom wag. Hy het hulle agt dae laas gesien en het aan Mossel Bay Advertiser gesê hy mis hulle verskriklik.
Berg se toespraak, From idea to impact, het gaste gemotiveer om onder meer 'n visie te hê en gedissiplineerd elke dag dieselfde resep toe te pas om sukses te bereik.
Berg het aan die Advertiser gesê hy en sy gesin hou gereeld vakansie in Vleesbaai en probeer om minstens een keer per jaar hierheen te kom.
"Mosselbaai is my mense. Dit is 'n spesiale plek en ek hou van die Afrikaans," het hy gesê.
Dié wenner van die vierde seisoen van die Suid-Afrikaanse weergawe van Survivor het onlangs aangekondig dat hy van sosiale media af gaan wees en het selfs 'n video gemaak om totsiens te sê.
Hieroor sê Berg: "Ek is nou af tot die Here weer vir my sê om op te gaan." Vir Berg gaan die besluit oor veel meer as net om minder tyd op sy foon deur te bring.
Hy glo sosiale media en ander afleidings kan maklik 'n mens se tyd steel, tyd wat eerder gebruik kan word om na God se stem te luister.
Op die vraag of hy sosiale media mis, antwoord Berg eenvoudig: "Ja."
Die besluit het hom ook laat besef hoe maklik mense aan verskillende vorme van afleiding verslaaf kan raak.
Hy het onlangs suiker uit sy dieet gesny en was ten tyde van sy onderhoud met die Advertiser reeds 42 dae daarsonder.
Dié proses het hom laat besef hoeveel dinge mense gebruik om hulself te troos, eerder as om hul troos by die Here te vind.
Volgens hom is daar tye in 'n mens se lewe wanneer jy doelbewus moet wegstap van die geraas en tyd moet maak om te besin oor wat werklik belangrik is.
"Dit is nie vir altyd nie. Daar is tye in 'n mens se lewe wat jy moet afsonder en gaan dink: Wat is regtig vir jou belangrik?" sê hy.
"Die wêreld het te veel van jou. Die wêreld vat alles van jou. Dit is 'n heilige tyd wat ek wil gebruik om uit te pluis wat die volgende stap is. "Daar is te veel geraas in die wêreld. Jy kan nie God se stem hoor nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’