125 Vissers dalk werkloos

Mosselbaai se vissersgemeenskap is geskok oor die nuus dat groot afleggings mag volg nadat die jongste voorlopige viskwotas vir "Hake Inshore Trawl" aangekondig is. Al die plaaslike vismaatskappye se kwotas is afwaarts aangepas.Foto: Nickey le Roux

MOSSELBAAI NUUS - Tot 125 werknemers van een van Mosselbaai se grootste vismaatskappye, Viking Inshore Fishing, staar moontlike aflegging in die gesig.
 
Kort voor Kersfees het dit hierdie week bekend geword dat die maatskappy se voorlopige kustreil stokviskwota, oftewel Hake Inshore Trawl-kwota soos dit amptelik bekend staan, met 70% ingekort is.
 
Die beplande datum vir die inwerkingtreding van die nuwe, langtermynkwotas is 1 Januarie 2017.
 
Personeel is op Woensdag, 7 Desember van verwikkelinge in kennis gestel.
 
Maatskappye moet elke 15-jaar aansoek doen vir die hernuwing van kwotas. Die huidige kwota het einde 2015 verstryk. Tans word op die voorlopige kwotas gewerk.
 
Die departement van landbou, bosbou en visserye het 'n puntestelsel ontwikkel waarvolgens kwotahouers se aansoeke beoordeel is en, hoewel Viking met 92.8% die tweede hoogste telling in die industrie volgens die vasgestelde vereistes behaal het, is die kwota desondanks met meer as tweederdes ingekort sou die voorlopige kwotas goedgekeur word.
 
Die vereistes het onder meer transformasie, werksaamhede, opleiding, belegging in die industrie, en dies meer gemeet. Die eienaars van visregte kan intussen kommentaar en vertoë lewer en daar word gehoop dat die departement tot ander insigte sal kom.
 
Daar is vasgestel dat al die kustreilkwotas vir stokvis vir al die Mosselbaai-vismaatskappye ingekort is, hoewel Viking se kwota die ergste geraak word.
 
'n Direkteur van MBC Visserye, mnr Lionel Brown, sê hoewel hul maatskappy se voorlopige kwota met 10% ingekort is, is dit op 'n baie lae basis bereken.
 
"Die nuwe syfers maak dit onmoontlik vir ons maatskappy om vir groei te beplan. Met die jongste syfers sal ons met twee bote maar sowat vier maande van die jaar vis kan vang. Daarenteen is die kwotas vir groot vismaatskappy op 'n baie groter basis bereken, en is groter tonnemaatkwotas aan hulle toegeken selfs al het hulle in een geval net een vaartuig in die gebied.
 
Ons wil plaaslike vissersmense bevorder, geleenthede vir hulle skep, maar dit wil voorkom asof nuwe toetreders tot die bedryf meer regte gegun word as bestaande vissers," aldus Brown.
 
Die departement beoog om 12 nuwe regtehouers in die sektor toe te laat, waarvan ses na wat verneem word geen vorige ervaring in die visbedryf het nie. Die Hake Inshore Trawl-kwota is spesifiek vir toestande in die Suid-Kaap uitgereik.
 
By Viking werk sommige vissers reeds sedert die negentigerjare toe die fabriek in Mosselbaai gevestig is vir die maatskappy wat reeds meer as 20 jaar 'n integrale deel van Mosselbaai is en tans permanente werk aan 179 werknemers verskaf. Sonder 'n groter kwota, sal werksaamhede en gevolglik personeel afgeskaal moet word.
 
Met die huidige kwota sal daar slegs werk vir twee van die maatskappy se vyf bote wees. Mosselbaai se werksaamhede is geskoei op vyf vissersbote wat stokvis en tongvis vang en werk verskaf vir die aflaai-afdeling, ysaanleg, fabriek, werkswinkel, kouestore, versendingsafdeling, vier winkels en twee restaurante.
 
Die bote is spesifiek vir stokvisvangste geskik en sal na wat verneem word, nie in Kaapstad of elders aangewend kan word nie.
 
Nie net die direkte personeel en hul families nie, maar ook die verwante industrië wat met die visbedryf handel, en Mosselbaai se ekonomie in die breë, word direk deur die verwikkelinge geraak.
 
Geen kommentaar is teen druktyd van die departement ontvang nie.
 
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
 
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser