MOSSELBAAI NUUS - Spelers van Eden Tennis het onlangs baie goeie resultate behaal toe hulle by die Wêreld se Meestersbyeenkoms in Mexiko in aksie was.
Teen die gasheerland het die Suid-Afrikaners met 2-1 geseëvier, wat hulle toe in staat gestel het om teen Frankryk te moes speel om die algehele vyfde posisie. Die Franse was egter te sterk en SA moes die knie met 3-0 buig om uiteindelik sesde te eindig uit die 16 lande, wat deelgeneem het.
Die 50+, 55+ en 60+ groepe het elk uit ‘n mans- en vroue-span van vier lede bestaan. Eden was verteenwoordig deur Christine van Coller en Rika de Bruyn (55+/Hartenbos tennisklub), Rida Bester en Jacques de Beer (55+/Wesbank Tennisklub, Oudshoorn) en Gillaume Oberholzer (60+/Hartenbos Tennisklub). Die vroue se 55+-span onder aanvoering van Christine van Coller, het uitstekend vertoon in sy groepwedstryde.
Van Coller het SA reeds 12 keer by die Wêreldbyeenkoms verteenwoordig, Oberholzer nege keer en Bester agt keer. Drie van die vier lede is van Eden Tennis met Michelle Whitehead van Kaapstad as 4de lid. In die 55+ vroue se groepwedstryde verloor SA teen VSA 3-0, klop Ierland met 3-0 terwyl Portugal ook die knie met 3-0 moes buig.
Die nasionale tennisspan wat aan die Wêreld se Meestersbyeenkoms in Mexiko deelgeneem het.
Die mans se 60+-span het dié prestasie geëwenaar. Beide spanne se beste vertoning nóg by dié toernooi. Wat veral in die kragmeting tussen Frankryk en die Suid-Afrikaase vroue getel het, was die feit dat dié wedstryde op kleibane beslis word. Iets waaraan die Suid-Afrikaners nie gewoond is nie terwyl dit algemeen vir die Franse is. Die hoogte bo seespieël (2300m) was egter nog 'n faktor waar die spoed van die balle 'n groot struikelblok is terwyl asemhaling ook moeiliker raak hoe langer 'n wedstryd duur.
Hierdie toernooie is ook 100% selfbefonds, wat baie druk op ons spelers plaas finansieel. Dit bly egter steeds ‘n voorreg om vir SA te kan speel. Spanne word op SA ranglys meriete gekies en om ranglys punte te verdien moet spelers ook bereid wees om aan die Nasionale-, Interprovinsiale en verskeie ander TSA ranglystoernooie deel te neem. Eden Tennis word beskou as die provinsie, wat die meeste groei toon en baie goed bestuur word onder leiding van die President Debra Hyde wat al 10 jaar aan die stuur van sake is.
Die jaarkalendar is propvol plaaslike toernooie en ligas. Daar is tans 10 klubs geaffillieer so ver as Riversdal, Oudshoorn, Rietbron en Plettenbergbaai. Enige navrae kan aan die sekretaresse Rika de Bruyn gerig word – secretary@ edentennis.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’