MOSSELBAAI NUUS - Debra Hyde van die Knysna-tennisklub is op die 23ste Eden seniorstennisverening algemene jaarvergadering onbestrede tot voorsitter herkies. Die vise-voorsitter, Des Sampson van Mosselbaai en die sekretaris, Sonja Botha, van die George-tennisklub is ook in hul poste heringestem.
Karin Deltenre (George-tennisklub) is tot tesourier verkies, terwyl die 190's organiseringskomitee, Ernst Kok, Hanlé Kok en Hugo van der Berg, ook behou is. Ayanda Nowtshiga van die Knysna-tennisklub is as bykomende bestuurslid verkies.
Hyde het in haar jaaroorsig die Eden-spelers lof toegeswaai vir hul afgelope twee jaar se buitelandse deelname. Dié spelers is Christine van Coller, Rida Bester en Sonja Botha wat in Miami, Amerika, en June Smith, Elmarie Lategan en Garnett Wicomb wat in Orlando Florida in aksie was.
Van Coller, Bester en Hyde is ook gekies om Tennis Suid-Afrika (TSA) se 50+-span in Augustus in Duitsland te gaan verteenwoordig.
Volgens Hyde is dit vir 'n klein provinsie soos Eden 'n besondere prestasie en veer in die hoed om soveel spelers in die SA spanne te kry. Ses spelers beklee tans ook eerste plekke op TSA se ranglys.
Hulle is Callie Matthee (80+ enkel- en dubbelspel), Garnett Wicomb (75+ enkelspel), Daan Spengler (70+ enkel- en dubbelspel), Elmarie Lategan (70+ dubbelspel), Christine van Coller (50+ enkel- en dubbelspel) en Rida Bester (50+ dubbelspel).
Elmarie Lategan (70+ enkelspel) en Hanlé Cronje (65+ dubbelspel) beklee SA tweede plekke.
Hyde het ook al die Eden-spelers bedank wat van die 190's spankompetisie so 'n sukses maak. "Dit is die unie se vlagskipkompetisie met sowat 120 spelers wat daaraan deelneem."
Sy het ook die tennisklubs wat die toernooi huisves bedank.
Dié klubs is Wesbank op Oudtshoorn, George, Hartenbos, Mosselbaai, asook Langenhoven Gimnasium, die hoërskole Oudtshoorn, Punt, York, Van Kerwel, Outeniqua en PW Botha.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'