GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Evergreens word nie maklik op hul tuisveld in Pacaltsdorp, die ‘Graveyard’, geklop nie, maar daar is altyd ’n uitsondering op die reël.
By die aanvang van verlede Saterdag se wedstryd teen Groot-Brakrivier was die Evergreens dus die gunstelinge, maar die Brakkies het ná ’n klipharde wedstryd - een wat in die doodsnikke nog in die weegskaal gehang het - met sewe punte geseëvier: 32 - 25.
Die Evergreens was eerste op die telbord met ’n vyfpunter nadat hulle ’n hanteerfout van die besoekers in die tweede minuut van die eerste helfte uitgebuit het.
Groot-Brak se Barend Alexander (stut) het sake in die vierde minuut gelyk gemaak toe hy met een van sy kenmerkende kraglopies sy pad vanaf die Evergreens se kwartlyn vir ’n pragdrie oopgehardloop het.
Die Brakkies se agttal het nie vir die Evergreens se swaargewigte in die vaste fasette teruggestaan nie; veral in die lynstane het hulle ’n paar belangrike balle afgeneem. Boonop het hulle aanvallende spel groot druk op die tuisspan geplaas en is hulle voor rustyd met nóg ’n vyfpunter beloon. Met die eerste helfte agter hulle, was die telling op 18 - 10.
Vir die eerste 20 minute van die tweede helfte was die Brakkies die meer aanvallende span, maar die Evergreens se verdediging het gehou. In die 31ste minuut breek die damwal egter, en die besoekers gaan vir hul derde vyfpunter oor.
Van hier het die Evergreens egter weer ’n plan gemaak en twee keer agter die Brakkies se doellyn gaan kuier; toe is sake gelyk met 25 punte elk. Wie sou die uitklophou plant?
Groot-Brak-flank Anroy Roelfse gaan oor vir ’n drie. Foto: Owen Sports Photography
In die 37ste minuut gaan druk die Brakkies se Tyrese Michaels (vleuel) die wendrie ná swak verdediging deur die Evergreens in die middelveld. Die tuisspan het hierna die besoekers in hul kwartgebied vasgepen, maar goeie verdediging het hulle van die doellyn weerhou. Die eindfluitjie het geblaas en Groot-Brak is nog onoorwonne vir die 2026-rugbyseisoen.
Die Brakkies se B-span het hul wedstryd met 32 - 10 gewen, terwyl die C-span 29 - 10 verloor het.
Eerskomende Saterdag pak Groot-Brak vir Bridgton van Oudtshoorn op die Brak-tuisveld, House of Pain.
Só staan die punte van die Superliga A se top 8 tans:
1. Evergreens - 28
2. Barbarians - 25
3. Groot-Brakrivier - 23
4. Bridgton - 17
5. Heidelberg - 17
6. Crusaders - 14
7. Silver Stars - 13
8. Progress - 8.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’